Familie benodig finansiële hulp vir kleuter se toetse

Mckayla Promnitz is ‘n lewenslustige driejarige wat aan haar ouers verskeie uitdagings bied.

POLOKWANE – Haar ma, Lanzette, vertel van hul lewensreis met dié bondeltjie liefde tot dusver.

“Tydens my swangerskap met Mckayla was alles normaal, alhoewel die dokters vermoed het dat sy Downsindroom sou hê. Hulle het my en my man, Michael, die opsie gebied om die fetus te aborteer, maar ons het besluit dat dit teen ons geloof en beginsels is en het met die swangerskap voortgegaan.

Mckayla is sonder enige afwykings gebore en was ‘n baie rustige baba wat nie baie gehuil het nie. Vandag is dit egter nie meer so nie en sy is vreeslik aktief en klouter op, en oor, alles,” lag Lanzette. “Sy klim ons mure uit en ek het haar al by die bure gaan haal.

Gereeld kry ek haar ook waar sy teen die diefwering uitgeklouter het.”

Volgens Lanzette was hulle ‘n paar vriendinne wat op dieselfde tyd swanger was en geboorte geskenk het, en Mckayla het vandat sy begin loop het, ‘n agterstand begin toon. “Ons het besef dat haar spraakontwikkeling agter die van die ander kinders was en het gesien dat sy nooit stil is nie. Ek het besluit om haar in ‘n kleuterskool te sit en aan die begin het sy vreeslik geskree maar het dit later aanvaar en soos ‘n stertjie by haar juffrou gebly. Sy skree ook vreeslik as sy hoor sy moet by haar pa bly. Ek kan haar nêrens heen saamneem nie omdat sy nie kan stilsit nie.”

Lanzette vertel dat Mckayla nie eens vir vyf minute kan stilsit nie en nooit saam met haar ouer suster en broer kan sit en fliek kyk nie. Sy sukkel ook deesdae om te slaap. “Ons het McKayla na ons huisdokter geneem en hom oor McKayla gevra waarna hy ons na ‘n pediatriese neuroloog verwys het vir verdere toetse. Ons het die pediatriese neuroloog gekontak en uitgevind dat die toetse tussen R6 500 en R8 000 beloop. Haar half-broer is met spinale muskulêre atrofie gediagnoseer en ons is bang dat McKayla ‘n soortgelyke siekte of ‘n ander siekte onder lede kan hê.”

Spinale muskulêre atrofie (SMA) is die kollektiewe naam vir ‘n groep progressiewe spiersiektes, ook bekend as neuromuskulêre versteurings. Die oorsaak van hierdie toestande veroorsaak skade aan die motoriese senuweeselle in die rugmurg met swak spierfunksie.

“Haar half-broer was een jaar en agt maande oud toe hy gediagnoseer was. Hy kon kort na die diagnose nie meer loop nie en moet twee keer ‘n week fisioterapie ontvang. Ons mediese fonds is nie voldoende om vir die nodige toetse te betaal nie en ons is ook nie finansieel in staat om die toetse kontant te betaal nie.”

Indien lesers sou belangstel om die gesin by te staan kan hulle vir Lanzette by 082 632 0356 of lanzettev@nashualim.co.za kontak.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

 

Exit mobile version