Rekonstruksie-trauma na mastektomie

Op die ouderdom van 33 het Marise Landman (skuilnaam) daarvan gedroom om ‘n tuisbly ma te word en sê sy onthou nog die sorgvrye dae en die planne wat sy gemaak het. "Ongelukkig het die lewe iets anders vir my beplan."

POLOKWANE – Op die ouderdom van 33 het Marise Landman (skuilnaam) daarvan gedroom om ‘n tuisbly ma te word en sê sy onthou nog die sorgvrye dae en die planne wat sy gemaak het.

“Dit was in Maart 2012, ek het begin beplan om op te hou werk en dan my pensioengeld te gebruik vir kosmetiese chirurgie op my borste. Ongelukkig het die lewe iets anders vir my beplan. In die middel van Maart het ek ‘n knoppie in my linkerbors gevoel alhoewel daar nie pyn was nie. Ek het die dokter die volgende dag besoek en ‘n sonar op die bors gedoen. Hy en die radioloog het vermoed dat dit bloot ‘n melkklier was wat verhard het, iets wat soms met vroue wat geborsvoed het gebeur.”

Sy het haar werk aan die einde van Maart bedank en aan die begin van Mei het haar man haar gevra om vir hom ‘n dringende afspraak by die dokter te maak omdat hy hartpyne ervaar het.
“Met my man se familiegeskiedenis kon ek dadelik ‘n afspraak kry. Terwyl die dokter ‘n EKG op my man gedoen het, het ek hom sommer gevra om my bors te ondersoek want die bors het soos ‘n lemoenskil begin saamtrek. Ek het geen pyn gehad nie en dus het ek eers gedink dit was as gevolg van die klier. Die dokter het in ‘n mediese boek vir my gewys dat dit moontlik kanker kon wees en hy het vir my ‘n afspraak by ‘n chirurg gemaak om die bors te ondersoek.”

Sy vertel dat haar man se EKG resultate skoon was en dat bloedtoetse getoon het dat hy ‘n oderaktiewe skildklier het. “Ek glo God het ons daardie dag na die dokter gestuur.”

Aan die einde van Mei is kanker positief by haar getoets na ‘n biopsie.

“Dit was Infiltrating Ductal Carcinoma, gr. 3, fase vier kanker. Dit beteken die kanker was op die ergste graad en het baie vining gegroei. Die knoppie het van Maart tot Mei van 2 cm tot 20 cm gegroei.”

Sy vertel dat sy ‘n bilaterale mastektomie gehad het in Junie 2012 en vanaf Julie tot Desember chemoterapie ontvang het. Daarna het sy 36 een-uur bestralingsessies ontvang van Maart 2013 tot April in dieselfde jaar.

“In Januarie 2014 was ek in remissie en was my kankertelling stabiel. Aan die begin van Februarie was dit tyd vir my eerste rekonstruktiewe operasie. Hulle het, wat hulle noem, ‘n expander ingeplant om die vel te laat rek. Met die gebruik van die expander word 100 ml vloeistof weekliks deur die naald ingespuit tot die vel op sy verste gerek is. Daarna word die expander met silikoonborste vervang. My liggaam het ongelukkig na ‘n week die expander verwerp. Na ‘n drie-maande opvolgsessie met twee plastiese chirurge het ek ingestem om nog ‘n rekonstruksieoperasie te ondergaan. Die ‘DIEP flap’ was die keer die opsie. Die chirurge het self nog nooit so ‘n operasie gedoen nie, maar was baie oortuig van hul saak.”

‘n DIEP-flap is ‘n tipe borsrekonstruksie waarin bloedvate wat ‘deep inferior epigastric perforators (DIEP)’ genoem word, asook die vel en vet wat met hulle verbind word, van die onderbuik verwyder word en na die bors oorgeplaas word om ‘n bors na mastektomie te rekonstruktureer. Jou hoofslagaar in die bors word onderdeur die ribbes tot by die oorplanting gely.

Aan die begin van Augustus het sy dus ‘n dubbel DIEP-flap operasie ondergaan.  “Die operasie het 13 ure geduur en na elke operasie gaan lé die haartjies in jou longe plat. Jy moet dan hoes om dit weer te laat regop staan. Toe ek hoes het my nuwe regterbors se are gebars en ek was weer terug teater toe vir ‘n vier-uur lange noodoperasie. Tydens die operasie was my regterbors verwyder.”

Sy vertel dat sy vir sewe dae onder sedasie geplaas was en dat daar onsekerheid was of sy sou oorleef nie. Na 10 dae in die intensiewesorgeenheid was sy ontslaan.

“Ek glo dat God my hierdeur gehelp het. My wonde het septisemie veroorsaak en na 10 maande se intensiewe behandeling by die Polokwane Wond Kliniek, was ek genees. Ek glo wat met my gebeur het nie uniek is nie. Tot aan die begin van hierdie jaar het ek my onkoloog elke ses maande gesien. Ongelukkig het kanker weer sy kop uitgesteek en my borskanker het versprei na my ruggraat, limfnode, borsbeen en lewer. Ek kry elke derde week chemoterapie, maar die kanker is nie geneesbaar nie. Ek dien ‘n lewende God en ek voel soos God se oogappel want Hy bederf my elke dag nog saam met my gesin.”

Sy vertel dat kanker glad nie in haar familie is nie, maar dat dit ook nie vir haar soos ‘n doodsvonnis was nie. “Ek het ‘n goeie ondersteuningsisteem en bly positief. Die mediese fonds waarop ons as gesin is, is baie goed. Hulle betaal vir my prostese en ek het selfs ‘n spesiale swembroek. Die hele gebeurtenis het ons almal as gesin nader aan mekaar gebring. Ek het ervaar dat ons plaaslike dokters meer inligting oor al die prosedures gee as wat die wat in Johannesburg praktiseer doen. Die Here het my op die pad gesit om te wys dit is nie die einde nie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version