Local NewsNews

Woede oor verneukers se blatante optrede

Verskeie plaaslike besighede het die afgelope drie maande derduisende rand verloor deur bedrieërs wat na bewering vervalste betalingsbewyse gebruik om produkte te steel. Vyf besighede waarvan Polokwane Observer bewus is, het byna R110 000 se skade gelei nadat hulle vervalste bewyse van betaling van die booswigte ontvang het en niksvermoedend die produkte oorhandig het. Die …

Verskeie plaaslike besighede het die afgelope drie maande derduisende rand verloor deur bedrieërs wat na bewering vervalste betalingsbewyse gebruik om produkte te steel.
Vyf besighede waarvan Polokwane Observer bewus is, het byna R110 000 se skade gelei nadat hulle vervalste bewyse van betaling van die booswigte ontvang het en niksvermoedend die produkte oorhandig het. Die kwaaddoeners gebruik die name Pieter Johan de Beer en Deon, sonder ‘n van.
Verteenwoordigers van die onderskeie besighede vertel van dieselfde werkwyse van die skurke wat ondernemings skakel en ‘n kwotasie aanvra. Sodra die kwotasie gestuur is, word die verteenwoordiger teruggeskakel en ingelig dat ‘n elektroniese betaling deur Nedbank gedoen is en die bewys van betaling aangestuur word. ‘n Derde party of vervoermaatskappy word dan gereël om die produkte op te laai.
In meeste gevalle doen die sogenaamde kliënt navorsing oor produkte of selfs spesiale aanbiedinge by ‘n spesifieke maatskappy en kom goed ingelig in die gesprek voor.
Verkoops- en bemarkingsbestuurder van Poolserve, Brett Bannell sê hulle het in Augustus drie volledige kombinasieprodukte, wat drie swembadpompe ter waarde van meer as R33 000 insluit, verloor. “Ek het ‘n saak by die polisie aangemeld, maar hulle diens is uiters swak. Daar is glo een verdagte gearresteer en het reeds op 9 September in die hof verskyn en sou gister (Woensdag) weer verskyn het, maar ek word nie op hoogte van sake gehou nie. Vroeër die week was ek weer by die Westenburg polisiestasie en niemand kan my help met die vordering van die saak of inligting verskaf nie omdat die ondersoekbeampte glo met verlof is,” sê Bannell.
Hy is baie bekommerd en het reeds met sakelui in die stad en Tzaneen geskakel wat sê die bedrieërs is tans in dié buurdorp ook doenig om besighede te teiken met dieselfde slenter.
‘n Plaaslike aluminium- en hardewarewinkel, Tsipi Merchants se administratiewe klerk, Erika Pretorius, sê ‘n man wat haar verlede maand geskakel het, was ook goed ingelig oor die vensterrame ter waarde van R27 000 wat hy wou aanskaf. “Ek het niksvermoedend die beta­lingsbewys ontvang en aanbeveel dat die kliënt eers moet wag tot die betaling in ons rekening verskyn voor die vervoermaatskappy die rame wat vir ‘n ouetehuis bestem is, kom oplaai.” Sy het later toegegee en die rame verskaf toe die man sê hy het reeds ‘n vervoermaatskappy betaal om dit op te laai en dat dit dringend is.
Hi-Q Ladine is onlangs bande ter waarde van R7 200 kwyt. “Een van ons verkoops­persone het ongelukkig die bande gelaai sonder om seker te maak dat die betaling gedoen is. Die skurke het op dieselfde dag soortgelyke bedrog by ander handelaars probeer pleeg,” sê ‘n werknemer wat verkies om anoniem te bly.
Leonard Jacobs, ‘n verkoopskonsultant van ‘n plaaslike sleepwa-onderdelemaatskappy moet meer as R26 000 terugbetaal nadat hy in Junie deur dieselfde slenter gevang is. “‘n Man wat kliënte se aankope teen betaling vervoer, het opgedaag om die produkte op te laai. Hy het gesê hy is R900 betaal om die aankope namens die sogenaamde kliënt te vervoer,” sê Jacobs.
Hy het ‘n saak by die Westenburg polisiestasie aanhang­ig gemaak, maar nog geen verklaring is by hom afgeneem nie.
Westenburg polisiewoordvoerder, Mpandeni Nkuna het ten spyte daarvan dat hy van die saaknommer voorsien is, teen druktyd nie kommentaar gelewer nie.
Besighede is ge­waar­sku om seker te maak dat die betaling wel in die besigheid se rekening reflekteer voordat produkte hul perseel verlaat.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button