Die polisie het Maandag drie verdagtes wat moontlik deel van ‘n sindikaat kan wees op die hoek van Devenish- en Kerkstraat aangekeer en onder meer handwapens, ‘n aanvalsgeweer, hope ammunisie, plofstof en messe gekonfiskeer.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die polisie het ‘n verdagte Volkswagen Polo met vier insittendes opgemerk en agtervolg. Hulle het die polisie gewaar en weggejaag, maar is in die onderdorp vasgekeer waarna een vermeende misdadiger uit die motor gespring en weggehardloop terwyl die ander drie gearresteer is.
Die voertuig is deursoek en drie handwapens met 59 rondtes ammunisie, ‘n R4-aanvalsgeweer met 35 rondtes ammunisie, plofstof, vier selfone en drie messe is gevind.
Ngoepe sê hulle vermoed die gearresteerdes is deel van ‘n groter sindikaat wat veral geldwaens en Outomatiese Tellermasjiene (OTM) in gebiede in die provinsie teiken. Die drie is tussen 24 en 34 jaar oud en sal onder meer op aanklagte vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie, plofstof en gevaarlike wapens in die Polokwane landdroshof verskyn.
Die polisie is besig om die moontlikheid dat dié groep by verskeie onlangse voorvalle van gewapende roof betrokke was, te ondersoek. Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het die polisiebeamptes wat die mans in hegtenis geneem het vir hul goeie werk bedank.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com