Kwêla-aanbieder klets saam

Die bekende akteur en aanbieder, Hannes van Wyk, het Polokwane Saterdag, 16 Oktober besoek waar hy tydens Curro Heuwelkruin se 10-jaar feesvieringe die gasspreker by die damestee was.

POLOKWANE – Review het die geleentheid benut om hom ‘n paar vrae oor sy loopbaan te vra.

Wat verkies jy om te doen, akteur, aanbieder of motiveringspreker?

Ek is opgelei as akteur, dus sal dit seker altyd my eerste liefde wees. Ek het vir jare net verhoogwerk gedoen en dit was vir my heerlik. Vir ‘n lang tydperk was ek net op televisie en het weer so vyf jaar gelede terug na die verhoog gekeer met die toneelstuk ‘Voor ek Vergeet’ wat ek en Amanda Strydom opgevoer het. Ek het oor die jare ook baie aanbiederswerk gedoen en ek geniet di took vreeslik baie, veral die onderhoude. Toneelspel en aanbieding is baie verskillend en uiteenlopend; Met akteur wees klim jy in iemand anders se vel in en jy vertolk `n karakter en met aanbieding is jy net jouself en moet jy uiters goed voorbereid wees. Ek sal nie sê ek is `n motiveringspreker nie, ek vertel net my storie en glo en hoop dit help mense.

Waar kry jy jou onderhoudsvrae vandaan? Byvoorbeeld, as jy met iemand vir Kwêla ‘n onderhoud voer, word jou vrae vir jou uitgewerk, werk jy dit self vooraf uit, of vra jy soos wat die onderhoud aangaan?

Die sleutel is voorbereiding, voorbereiding, voorbereiding. Ek werk self aan my onderhoude en navorsing en ek glo ‘n mens moet ontsettend goed voorbereid wees voor enige onderhoud. Ek doen navorsing, lees, vind uit by ander mense ensovoorts voor ek enige onderhoud doen. Dit is ook baie makliker om `n lang onderhoud te doen as `n relatiewe korter onderhoud. By Kwêla het ek 10 minute om by die kruks van die onderhoud te kom wat nogal ‘n kort tydperk is. Ek begin gewoonlik tydens my voorbereiding met omtrent 100 vrae en dan “sif” ek daardeur tot ek aan die einde net vyf vrae het – die belangrikste en wat “alles” dek. Om te luister is ook kardinaal met enige onderhoud.

Behawe die drie onderhoude wat jy met Nelson Mandela, Bill Clinton en Arnold Schwarzenegger gevoer het, watter een onderhoud staan regtig vir jou uit?

Ek was gelukkig om deur die jare al ontsettend baie onderhoude te kon doen en ek kan regtig nie sê dat ek een kan of wil uitsonder nie. Dit is grotendeels jou as onderhoudvoerder se plig om seker te maak dat `n onderhoud werk. As ek móét  uitsonder sou ek sê die ouer garde, die Wilna Snymans ensovoorts.

Met wie sal jy graag nog ‘n onderhoud wil voer?

Om eerlik te wees het ek al met wonderlike mense onderhoude gevoer. Ek sal graag meer met “gewone” alledaagse mense wil gesels en hulle stories hoor.

Hoe ontspan jy en skakel jy ooit af?

Ek woon in Kaapstad en wanneer ek tyd het om te ontspan spandeer ek dit by die huis. Ek het twee honde wat soos kinders is en `n handjievol beste vriende. Dan doen ek die Kaapse ding, ek het `n beach buggy en gaan gereeld strand toe.

Waar kry jy tyd vir alles wat jy doen?

Hierdie jaar was nogal woes, ek het twee tv-reekse gedoen naamlik Waterfront wat Dinsdae om 20:00 op kykNET wys en Danz wat Donderdae op kykNET en kie wys en dan ook Kwêla. Ek was gelukkig om baie motiveringspraatjies by damesoggende te doen na aanleiding van my boek “Vroue na aan my hart” wat vanjaar op die rakke is.

Hoe verwerk jy iemand anders se hartseer? Raak dit jou ook en hoe hanteer jy dit?

Ja, ek is maar `n “softie” wat dit aanbetref. Iemand se hartseer en swaarkry is vir my baie erg, ek probeer dit nie eers wegsteek nie.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version