Local NewsNews

Gras groei nie onder dié boeremeisie se voete

'n Elfjarige boeremeisie van Sterkrivier laat nie gras onder haar voete groei nie en is 'n finalist in die AfriForum Entrepeneur van die jaar kompetisie.

MOKOPANE –  Niah Malan se ma, Tanya, sê haar dogter is ‘n entrepeneur van formaat en weens haar agtergrond en absolute trots het Niah besluit om in te skryf vir AfriForum se Entrepreneur van die jaar kompetisie.

Hierdie is ‘n groot kompetisie en Niah ding mee teen volwassenes. Sy het almal van die kontrei se ondersteuning nou nodig. Tanya sê Niah het ‘n maatskappy gestig met die naam van Boere Legende en Boeremeisie Beeldskoon is die eerste been van haar besigheid. Dit is ‘n hoë kwaliteit velsorgreeks en Niah se Boeremeisie Beeldskoon Produkte bevat Vit A, D en E sowel as anti-oksidante.

Die reeks bevorder sel regenerasie, fasiliteer die toename van kolageen vlakke in die vel, bevorder genesing, verbeter vel elastisiteit, het reinigende eienskappe en bevogtig sagkens. “Ons het nog net positiewe terugvoer gekry van kliënte wat al die produk gebruik het. Niah se produkte kan aanlyn op haar facebookblad Boeremeisie Beeldskoon gekoop word en by agente landwyd.”

Tanya vertel Niah is baie opgewonde oor die vooruitsigte van haar besigheid en is selfstandig. Sy weet beslis wat sy wil hê. Niah se toekomsplanne is om haar besigheid uit te brei na T-hemde, sakke, boeke en nog vele meer.

“Niah wil ook terugploeg in die Afrikaanse-gemeenskap en graag betrokke raak by die plakkerskamp buite Polokwane waar sy en haar broer Durandt wat ‘n kwekery bedryf, vir mense wil leer hoe om hul eie groente te kweek.”

Tanya help Niah met besigheidsbesluite. “Ons het ‘n fantastiese ontwerper vir Niah se produkte gekry, Nadine du Preez het onder meer die Boeremeisie reeks uitgebeeld in die logo. Marlize van der Merwe van Mokopane is die fotograaf wat sorg vir die pragtige foto’s.”

Niah is nie net ‘n boeremeisie in naam nie, maar ook in haar hart. “Sy word op ‘n plaas tussen perde, beeste, bokke en hoenders groot en kan vir jou n koei melk dat die skuim staan. Niah is trots Afrikaans en lief vir haar herkoms. Sy kry tuisonderrig en ek leer my kinders die regte waardes en standaarde waarmee ek groot geword het,” sê Tanya.

Help Niah deur vir haar te stem. Volg die volgende skakel: https://www.afrikaansvriendelik.co.za/afrivriendelik-entrepreneur-van-die-jaar/

Soek op die lys vir Boeremeisie Beeldskoon, klik op die oranje blokkie en jy sal sien dat daar ‘n baie fyn swart lyntjie aan die linkerkant verskyn. Gaan dan tot heel onder aan die blad waar jy jou naam en nommer moet invul voor die stem aanvaar sal word. Klik, stuur en dan sal ‘n boodskap verskyn wat jou bedank vir jou stem. Dis belangrik om die stappe presies te volg sodat die stem sal tel. Mense kan tot op 15 Oktober stem en die wenner word op 20 Oktober aangekondig.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button