Local NewsNews

Agter die helikopter se stuur, oes Inge haar drome

Van biologiese wetenskap tot landbougradering, is Inge Cilliers die eerste vrou in Afrika wat met dié graad spog.

POLOKWANE – “Hierdie gradering beteken dat ek enige landboutoediening vanuit die lug met ‘n vliegtuig, en in my geval, ‘n helikopter, mag doen. Die rede, dink ek, dat vroue met hierdie gradering so yl gesaai is, is omdat dit so ‘n fisieke proses is om deur te gaan.

“Een van die vele vereistes om hierdie gradering te bekom, is om vir ses maande grondwerk te doen, waar jy fisies op die grond betrokke moet wees by die meng van gifstowwe, instandhouding van die helikopters en toerusting en alles wat van jou op die grond verwag word om die helikopters in die lug te hou,” vertel sy.

Inge met Gary Broburg, haar kursuseksaminator.

Inge het in Februarie 2015 by die Power Flight Lugskool by die Wonderboom Lughawe aangesluit. Dit is ook hier waar sy haar privaat vlieënierlisensie voltooi het.

“In Desember 2015 sluit sy by RotorWorx Aviation in Wellington aan, waar sy leer hoe oesbesproeiing met helikopters gedoen word.

“Ek het sommer dadelik geweet dit is wat ek wil doen.

“Nadat ek my PPL in Pretoria voltooi het, is ek in Desember 2015 sak en pak af Wellington toe waar ek vir ses maande gebly het. Ek het einde Mei 2017 my kommersiële vakke voltooi en getoets vir my lisensie,” vertel sy.

Inge het in haar tweede B.Sc jaar aan die Universiteit van Pretoria van loopbaankeuse verander.

Sy het in haar tweede jaar met B.Sc mensfisiologie, genetika en sielkunde voortgegaan met die idee dat sy dalk nog ‘n belangstelling in medies gehad het.

“Dit was in my tweede jaar wat ek ‘n vriend in Pretoria ontmoet het wat besig was om sy kommersiële helikopterlisensie te voltooi.

“Hy het my gereeld genooi om saam met hom te kom vlieg terwyl hy besig was om sy kommersiële ure op te bou, en dit is hier waar die gogga my gebyt het.

“Ek het nog altyd ‘n enorme passie en liefde vir vlieg gehad, maar het in daardie stadium nog nie baie geleenthede gehad om in ‘n helikopter te vlieg nie.

“Saam met die ongelukkigheid oor die studies, die wonder oor die toekoms en die feit dat ek nie regtig geweet het wat ek daarmee wou doen nie, het ek baie navorsing gedoen oor vlieg as ‘n beroep vir ‘n vrou en wat die werksmoontlikhede is vir n helikoptervlieënier in Suid-Afrika.

“Dis toe dat die oortuigings-proses begin het, en my pa het my aangeraai om die studies te los en eerder ‘n beroep as ‘n helikoptervlieënier aan te durf,” vertel sy.

Volgens Inge was dit nie maklik nie.

“Om as ‘n vrou in ‘n sogenaamde manswêreld in te stap en te probeer naam maak vir jouself is nie altyd maklik nie.

“Die enigste sleutel om bo uit te kom en respek te verdien as ‘n vrou, is om hard te werk en nie terug te staan en te kyk hoe goed gedoen word nie, maar self bereid te wees om hard te werk.

“Ek het gelukkig in ‘n huis grootgeword waar daar altyd van jou verwag is om jou kant te bring, ongeag of dit nou ‘n man of seun se werk of ‘n vrou of dogter se werk was.

“Dit het my baie gehelp deur hierdie hele proses,” vertel sy.

Inge en ander werknemers besig met plaagbeheer. Foto’s: Verskaf

Inge werk tans vir RotorWorx Aviation in Kirkwood in die Oos-Kaap as ‘n oesbesproeiervlieënier.

“Ons laat steriele, manlike, False Codling Moths vanuit die helikopter vry, wat voorheen net deur vliegtuie gedoen is.

“Hierdie motte word in ‘n fabriek in Citrusdal geteel en gesteriliseer. Dit vorm alles deel van plaagbeheer oor die sitrus,” vertel sy.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button