Limpopo NKP-leier verkies as party se sekretaris

Die provinsiale leier van die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), Valerie Byliefeldt is onlangs in Pretoria as die party se nasionale sekretaris verkies. Dit volg nadat sy kort na die plaaslike ver­kiesing in 2016 by die NKP aangesluit het en in Oktober verlede jaar as provinsiale leier verkies is. Volgens haar het sy aan die einde …

Die provinsiale leier van die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), Valerie Byliefeldt is onlangs in Pretoria as die party se nasionale sekretaris verkies.
Dit volg nadat sy kort na die plaaslike ver­kiesing in 2016 by die NKP aangesluit het en in Oktober verlede jaar as provinsiale leier verkies is. Volgens haar het sy aan die einde van 2015 besluit om die politiek haar beroep te maak. Om nasionale sekretaris van die NKP te wees is vir haar ‘n groot eer, sê sy.
Benewens haar nuwe posisie sal sy steeds haar rol as NKP-provinsiale leier volstaan en in Mokopane, haar tuisdorp, aanbly. Byliefeldt verduidelik dat sy haarself beskikbaar sal stel vir die provinsiale en nasionale verkiesings in 2019 en dat sy gerat is om ‘n parlementêre posisie te beklee indien sy verkies sou word.
Uit die aard van die provinsiale leierskaps­posisie is sy by alle tipe gemeenskapsake reg­oor die provinsie, insluitende plaasmoorde, betrokke. Sy is daarbenewens besig met ‘n veldtog om die doodstraf te laat herinstel. Die Suid-Afrikaanse strafstelsel is onvoldoende om moordenaars te rehabiliteer, reken Byliefeldt en is sy van mening dat wet en orde geheers het terwyl die doodstraf in Suid-Afrika geldig was. Volgens haar gaan sy haar verder toespits op die implementering van strenger wetgewing met die oog op verskerpte wet en orde.
Sake wat fokus op die jeug en bejaardes sal altyd voorkeur by haar ontvang, lig sy uit. Sy kyk terselfdertyd na ‘n permanente oplossing vir die opheffing van behoeftiges en wil haar beywer vir die versorging en vestiging van persone sonder heenkome.
Sy noem verder dat sy graag wil sien dat alle minderheidsgroepe dieselfde behandeling moet ontvang en oor dieselfde kam geskeer word wanneer dit by dienslewe­ring kom, so ook in lan­­delike ne­dersettings. Byliefeldt beoog onder meer die loods van ‘n toekomstige veldtog teen korrupsie en bedrog in sekere munisipali­teite, onderneem om klinieke en hospitale regoor Limpopo te besoek en te konsentreer op ver­keersaangeleenthede en die hoë padsterftesyfer. Daarbene­wens wil sy by basiese onderwys­aangeleent­hede betrokke raak.
Byliefeldt nooi organisasies uit om saam met die NKP, wat op 25 Februarie vanjaar ‘n eenheidsbe­raad gehou het, te werk en reik sy ‘n hand van samewerking uit na diegene wat eenheid nastreef.

Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Exit mobile version