Agapé-naam veroorsaak verwarring

Daar is 'n hewige kopkrappery oor die gebruik van 'Agapé' vir besigheidsdoeleindes en die Agapé Christen Gemeente in Polokwane.

POLOKWANE – Dié gemeente het op hul Facebookblad ‘n plasing gemaak waarin hulle hulself van ‘n maatskappy, Free Agapé Enterprises (Pty) Ltd distansieer. Free Agapé Enterprises is ‘n finansieringskema wat onder die naam Choice Lifestyle Change, handeldryf.

Volgens die Agapé Christen Gemeente se prokureur, Phillip Smit, het die Agapé kerk geen verbintenis met die organisasie of maatskappy nie.

“Die maatskappy word beheer deur Maarten Stapelberg van Gansbaai. Volgens ‘n artikel op Moneyweb bestaan geen van die kwalifikasies wat Stapelberg sê hy het nie. In dié artikel noem Stapelberg ook dat die maatskappy nie by die Finansiële Dienste Raad of die Nasionale Kredietburo geregistreer hoef te word nie,” het Smit aan Review gesê.

Een van Choice Lifestyle Change se kliënte, Rhyno Nel, sê dié maatskappy is ‘n Christelikgebaseerde onderneming waarin Wouter Botha en Stapelberg mense help. “Ek is een van hulle kliënte en het nog geen probleme ondervind nie. Party mense is onder die indruk dat dit ‘n bedrogspul is maar dit is glad nie die geval nie,” sê Nel.

Review het met Stapelberg gepraat en hy het gesê hy is nie eers bewus van die aantygings en probleme nie.

“Ek is die alleeneienaar van die onderneming. Ons is nie ‘n kerk nie, ons is evangeliste. Ons doen evangeliewerk en uitreikings na mense in nood, onder andere om Bybels uit te deel. Toe ek ‘n naam vir my besigheid kies was Free Agapé Enterprises beskikbaar en dié is toe aan die onderneming geallokeer. Ons het dit ook so geregistreer. Ons het ‘n afdeling, Choice Lifestyle Change, wat mense wat ‘n behoefte het, help,” verduidelik Stapelberg.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version