Plaasmoorde – een gevonnis, drie aangekeer

Terwyl die polisie Saterdag drie verdag­tes gearresteer het in verband met die onlangse moord op Patty Peterson op ‘n plaas buite Bela-Bela, het die Limpopo hooggeregshof Sunday Thomas Sebatake verlede Woensdag tot 37 jaar tronkstraf vir die 2011 moord op Koos Grobler, op sy plaas in Letsitele, opgelê. Drie vas vir Peterson-moord Cecil en Patty …

Terwyl die polisie Saterdag drie verdag­tes gearresteer het in verband met die onlangse moord op Patty Peterson op ‘n plaas buite Bela-Bela, het die Limpopo hooggeregshof Sunday Thomas Sebatake verlede Woensdag tot 37 jaar tronkstraf vir die 2011 moord op Koos Grobler, op sy plaas in Letsitele, opgelê.
Drie vas vir Peterson-moord
Cecil en Patty Peterson is op 13 September glo deur vier verdagtes op hul plaas buite Bela-Bela aangeval. Cecil is in die kakebeen geskiet en in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal opgeneem terwyl Patty doodgeskiet is.
Ngoepe het destyds gesê vier verdagtes het omstreeks 08:30 by die plaas opgedaag, die huishulp met ‘n vuurwapen gedreig om hulle na die Petersons se huis te neem. Die aanvallers het glo geld geëis waarna die egpaar geskiet is. Die skurke het met ‘n onbekende hoeveelheid kontant gevlug.
Ngoepe sê ‘n 9 mm-pistool en ses lewendige rondtes ammunisie, ‘n selfoon wat glo aan die egpaar behoort en R80 kontant is Saterdag tydens die inhegtenisneming van drie verdagtes in Hammanskraal gekonfiskeer.
Die drie vermeende aanvallers staar klagte van moord, poging tot moord, huisroof en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig en het Maandag in die Bela-Bela landdroshof verskyn waarna die saak tot volgende week uitgestel is.
Plaasmoordenaar gevonnis
Intussen het die Limpopo hooggeregshof die 40-jarige Sebatake verlede Woensdag op aanklagte van moord en roof tot 37 jaar agter tralies gevonnis.
Limpopo Valke-woordvoerder, Matimba Maluleke sê ‘n groep verdagtes het Grobler op 5 Julie 2011 op sy plaas oorval, aangerand en onder meer van sy voertuig en selfoon beroof. Grobler het weens sy beserings gesterf.
Sebatake en ‘n medepligtige, Thabo Makaringe, is kort na die voorval aangekeer en in besit van van Grobler se besittings gevind.
Beide is kort na hul arrestasie op borgtog van R3 000 vrygelaat, maar Sebatake het tydens die verhoor nie weer vir die hofverskyning opgedaag nie en ‘n lasbrief is vir sy arrestasie uitgereik. Hy is weer vroeër vanjaar in Mei aangekeer. Maluleke sê Makaringe is intussen ook tronkstraf opgelê, maar kon nie die termyn bevestig nie.
Van Zyl-moordverdagtes in hof
Teen druktyd het Ngoepe bevestig dat agt verdagtes wat in verband met die moord op Piet en Tilla van Zyl in Augustus op hul plaas in die Immerpan-gebied aangekeer is, verlede Donderdag in die Lebowakgomo landdroshof verskyn het en dat die saak tot November uitgestel is.
Nthondo Shabane, Bheki Mhoboni, Mabuza Mhongazi, Nkosi Dumisani, Mlazi Sfiso, Willis Phiri, Vission Pokodisa en Enocent Moidondo bly in aanhouding. Pokodisa is ‘n voormalige werknemer van die Van Zyls.
Piet en Tilla is die nag van 19 Augustus vermoor waarna hul liggame die volgende dag gevind is. Piet is vyf keer en Tilla een keer geskiet en twee jaggewere en twee handwapens is gesteel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version