Local NewsNews

Deel nou reeds in vreugde van gee vir Kersfees

Om ‘n geskenk te gee in plaas daarvan om een te ontvang kan veel groter vreugde verskaf, veral wanneer dit vir inwoners in die gemeenskap is wat werklik swaarkry en soms net van dag tot dag oorleef. Vision of Hope se skoendoosprojek is die nuutste opwindende inisiatief van dié niewinsgewende organisasie wat mense in nood …

Om ‘n geskenk te gee in plaas daarvan om een te ontvang kan veel groter vreugde verskaf, veral wanneer dit vir inwoners in die gemeenskap is wat werklik swaarkry en soms net van dag tot dag oorleef.
Vision of Hope se skoendoosprojek is die nuutste opwindende inisiatief van dié niewinsgewende organisasie wat mense in nood by skuilings (shelters), ouetehuise en pleegsorghuise met verskillende projekte bystaan.
Dit behels dat vrywilligers of groepe ‘n versierde skoendoos met items vul wat van ‘n lys gekies kan word en ‘n boodskappie bysit. Mense kan ook eie inisiatief met nuttige geskenke gebruik. Elke persoon kies vooraf of hy die pakkie wil opmaak vir ‘n jong dame, jong man of volwasse vrou of man met die oog op Kersfees.
Die begunstigdes is die inwoners van Bella Vista Tehuis, Myngenoegen Shelter, Ivydale Shelter, Komarin Shelter, Iron Rest Shelter, Arethahuis en Polokwane Nasorgsentrum vir Volwasse Intellektueel Gestremdes.
“Die oomblik wat die ontvanger sy of haar geskenk oopmaak en mens die voorreg het om die vreugde en dankbaarheid op ‘n gesig te sien, besef jy dat van die ontvangers nog nooit in hul lewens die voorreg gehad het om van die alledaagse items te hê waarvan ons ‘n oorvloed van het nie,” sê Drienie van Wyk, Vision of Hope-voorsitter.
Die sustersvereniging van die Gereformeerde Kerk Pietersburg het die inisiatief as ‘n groep hanteer en reeds 43 geskenkdose gevul, versier, boodskappe opgeskryf en aan Vision of Hope oorhandig.
“Dit is die ideale geleentheid vir ‘n groep of instansie om saam te span en tot die projek by te dra,” sê Van Wyk wat beklemtoon dat al die geskenkdose op 17 November moet klaar wees en opgelaai sal word.
Om die proses te vergemaklik moet Van Wyk geskakel word sodra ‘n individu of groep van plan is om deel van die inisiatief te wees met die oog op koördinering.
Lys van voorgestelde geskenke, afhangend van geslag
Sanitêre- en toiletware soos ‘n lekerruiksepie, waslap, tandeborsel, tandepasta, sneesdoekies, kam, borsel, sjampoe, deodorant, lyfroom en weggooibare skeermesse. ‘n Notaboek en pen, haarversierings, boekie met inspirasieboodskappe, blanko geskenkkaartjies en koeverte, drasak vir kruideniersware/items, iets lekker om te eet (niebe­derfbaar), beursie of handige sakkie en inkleurboek en kleurkryt vir volwassenes sal ook handig te pas kom.
Skakel Van Wyk by 083 495 3959 of Brenda Koekemoer, Vision of Hope-lid, by 082 696 9227 vir enige navrae of om deel van die opwindende projek te wees.

Storie & foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button