Local NewsNews

Tommies se eerste hoofseun Schalk Liebenberg sterf

“Dit was ‘n belewenis om in sy teenwoordigheid te wees.” So beskryf plaaslike sakeman, Dawie Botes sy boesemvriend en eerste hoofseun van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Schalk Liebenberg wat verlede Donderdag op 81-jarige ouderdom aan komplikasies na ‘n onlangse operasie oorlede is. Botes sê Liebenberg was só ‘n formidabele mens dat sy begrafnis tot …

“Dit was ‘n belewenis om in sy teenwoordigheid te wees.”
So beskryf plaaslike sakeman, Dawie Botes sy boesemvriend en eerste hoofseun van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Schalk Liebenberg wat verlede Donderdag op 81-jarige ouderdom aan komplikasies na ‘n onlangse operasie oorlede is.
Botes sê Liebenberg was só ‘n formidabele mens dat sy begrafnis tot Saterdag uitgestel is om genoeg tyd vir vriende en oudkollegas te gee om van verskeie wêrelddele af te reis. Hy word Saterdag om 10:00 vanuit die NG Kerk Eldoraigne in Pretoria begrawe.
“Ons harte is baie seer na die afsterwe van ‘n stil reus. Hy was ‘n unieke mens, ‘n groot en lang man met ‘n klein hart en ‘n ongelooflike liefdevolle gesinsman,” sê Botes.
Na sy skoolloopbaan aan Laerskool Platkoppies noord van die stad het Liebenberg by Tom Naudé aangesluit waar hy van 1953 tot 1955 hoofseun en deel van die eerste matriekklas in die skool se geskiedenis was. “Die feit dat hy vir drie agtereenvolgende jaar hoofseun was, spreek boekdele oor die tipe kind wat hy was. Hy was destyds my senior en ek kan onthou hoe hy graad 8-leerders se tasse gehelp pak het en hoe hy my getroos het toe ek hartseer was,” vertel Botes. Hy voeg by dat Liebenberg, wat in ‘n arm huis grootgeword het, destyds skool wou verlaat om te gaan werk sodat hy sy ouers kon help om na sy broer en suster om te sien, maar die onderwysers het geld bymekaar gemaak om sy skoolgeld te betaal juis omdat hy ‘n uitnemende leerder en leier was. Hy was ook tamboermajoor van die kadetorkes.
Liebenberg was die eerste Tommie wat voltyds aan ‘n universiteit studeer het. Botes sê hy het drie verskillen­de beurse ontvang om aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer en het ‘n graad in si­viele inge­nieurswese behaal. Uiteindelik het hy ‘n bestuurspos in die uraanverrykings-korporasie in Pelindaba beklee.
Liebenberg het mettertyd by die kweek van aalwyne betrokke geraak en ‘n kenner op die gebied van kruisteling geword.
Hy het tydens die skool se 60ste bestaansjaar ‘n skildery aan die skool oorhandig wat vandag nog in die personeelkamer hang.
Liebenberg laat sy vrou, Liza, en kinders Schalk junior, Jolize en Wilma, asook vier kleinkinders agter.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Tommies se prefekteraad van 1955. Hoofseun, Schalk Liebenberg sit voor in die middel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button