Local NewsNews

Aksie nou noodsaaklik na drie plaasmoorde binne 30 dae in Limpopo

Na nog ‘n plaasaanval waarin ‘n dokter op sy plaas buite Lephalale doodgeskiet is, is alle oë op die polisie om die boeregemeenskap te beveilig nadat die landelike veiligheidsplan Vrydag by die Polokwane Skougronde geloods is. Van 20 Augustus tot 20 September is drie noodlottige plaasaanvalle in die provinsie aangemeld. Die nuutste aanval verlede Woensdag …

Na nog ‘n plaasaanval waarin ‘n dokter op sy plaas buite Lephalale doodgeskiet is, is alle oë op die polisie om die boeregemeenskap te beveilig nadat die landelike veiligheidsplan Vrydag by die Polokwane Skougronde geloods is.
Van 20 Augustus tot 20 September is drie noodlottige plaasaanvalle in die provinsie aangemeld.
Die nuutste aanval verlede Woensdag op die twee mediese dokters, Werner en Mariëtte Emslie, het skokgolwe deur die Lephalale- en wyer boerderygemeenskap gestuur.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe is ‘n soektog na die verdag­tes geloods, maar nog geen arrestasies is gemaak nie. Hy sê Werner het glo op die stoep gesit toe vier verdagtes waarvan twee handwapens gehad het, hom getakel en koelbloedig doodgeskiet het. Mariëtte is ook geskiet en sterk tans in ‘n hospitaal in Gauteng aan. Hul dogter, Barbara, ‘n mediese student aan die Universiteit van Pretoria was in die huis tydens die aanval, maar is ongedeerd. Twee handwapens is gebuit en die verdagtes het die toneel in Mariëtte se bakkie verlaat wat later ongeveer 2 km van die plaashuis af gevind is, volgens Ngoepe.
Intussen is daar ook nog geen arrestasies na die aanval op die bejaarde egpaar, Cecil en Patty Peterson, buite Bela-Bela op 13 September gemaak nie. Cecil is tydens die aanval in die kakebeen geskiet en in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal opgeneem terwyl Patty dood­geskiet is.
Ngoepe het destyds gesê vier verdagtes waarvan twee klapmusse gedra het, het omstreeks 08:30 op die plaas opgedaag en die huishulp met ‘n vuurwapen gedreig om hulle na die Petersons se huis te begelei. Die aanvallers het glo geld geëis waarna die egpaar geskiet is. Die skurke het met ‘n onbekende hoeveelheid kontant gevlug.
Intussen sal sewe verdagtes na verwagting vandag (Donderdag) en môre in die Lebowa­kgomo Landdroshof in verband met die moord op Piet en Tilla van Zyl in die Immerpan-gebied op 20 Augustus verskyn.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button