Oud-leerder onthou eerste dag in gr. 1 by PLS

Dr. Joost Heystek, 'n afgetrede kliniese sielkundige vertel van die kattekwaad wat hulle in hul skooldae in 1953 aangevang het

POLOKWANE – Met die herdenking van Erfenisdag het Review gaan kyk na van die oudste skole in die stad en waar hulle vandaan kom.

Dr. Joost Heystek, ‘n afgetrede kliniese sielkundige met n passie vir kultuur, is besig om navorsing oor Laerskool Pietersburg se geskiedenis en erfenis te doen. Hy is self ‘n oud-leerder van dié skool en vertel van die kattekwaad wat hulle in hul skooldae in 1953 aangevang het, onder andere om die meises se vlegsels in hul inkpotte te doop en dan daarmee te ‘skryf’.

Hy het sy eerste dae in die skool met Review gedeel.

Eerste skooldag:

Sommer met die eerste ontmoeting was dit duidelik: Skool is totaal ánders as wat ek verwag het. Dié ontdekking was in 1953, tydens my eerste dag in gr. 1.

Die nuwe milieu was amptelik bekend as die ‘Pietersburg Afrikaans Medium Skool’. Hierdie mondvol se laaste drie woorde is afgekort en só het almal die Skool ‘AA-EM-ES’ genoem. Vandag staan hierdie 110-jarige baken in die onderwys as Laerskool Pietersburg bekend.

Nog nie eers op die skoolterrein nie, of daar is klaar probleme. Op pad skoolhek toe, straat-oor, stol die geskril van ‘n fluitjie my moedige naderstaan.

Skoliere padpatrollie van PLS in die jaar 1968.

Die Hoof Padpatrollieseun (‘n gewigtige titel vir ‘n ewe gewigtige Standerd Vyf-knaap) beduie vir my dat hiér prosedure is. G’n sommer jou eie koers kies nie. Jy wag totdat die ander Padpatrollieseuns die borde oor die straat swaai, op sy fluitjie-bevel. Daarmee die nadruklike vermaning: stop – kinders stap oor – Children Crossing. Dan, en slegs dan, is die sebrakruising ‘n veilige oorgang.

Jy stry nie met so ‘n statige vertoning van dissipline en gesag nie. Selfs massiewe vragmotors hou plegtig stil as dié manne so sê. En hulle het indrukwekkende uniforms! ‘n Swart baret, met ‘n opvallende wit ster en ‘n ewe wit gordel-rige ding. Vanweë sy rang mag slegs die Hoofpadpatrollieseun die fluitjie blaas.

In die klaskamer het juffrou se vriendelike ontvangs sake darem aansienlik verbeter. Maar orde en reëls was steeds bo-aan die lys. Elke keer as die klok lui, is daar ‘n volgende ontdekking. Party vakke was opwindend. Soos byvoorbeeld klei-speel en sang. Oor ander – netjies skryf en somme maak – het ek egter tot vandag ‘n onnoembare mening.

Ongeag haar huwelikstaat is elke onderwyseres as ‘Juffrou’ aangespreek. Die manlike personeel was ‘Meneer’ en die Hoof was ‘Menéér’. (‘n Maat, in die Engelse skool, was verbaas oor ons Boertjies se blatante gebrek aan respek. Dat ons waag om die manlike onderwysers deurgaans ‘manure’ te noem!).

Aan die einde van my eerste skooldag was die algemene indruk dat die besoekie nogal prettig was. My gunstige opinie is egter bederf toe dit blyk dat ek die volgende dag wéér moet opdaag. Dat al die fluitjies en klokke en rye staan en stilsit en ja-juffrou en nee-juffrou vir ‘n volle 12 jaar gaan duur!

Soos elke ander skolier het ek maar deurgedruk. Selfs oorleef. Maar die slotsom was duidelik: Skoolgaan is nie vir sissies nie. Byna nie eers vir ‘n dapper Graad Eentjie nie.

Die aanvanklike gebou van die Gowermentskool waar PLS tans gevestig is.
PLS tans. Die oop deur in die foto is die ingang na die eertydse gr. 1-klas waarvan dr. Joost Heystek gepraat het.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version