Local NewsNews

Limpopo Skouspel glinster met plaaslike sangtalent

Musiekliefhebbers is met 'n skouspel van plaaslike talent bederf toe kunstenaars van die stad en regoor Limpopo die verhoog betree het in vanjaar se Limpopo Skouspel.

POLOKWANE – Die geleentheid is Vrydag- en Saterdagaand deur die Rock Hard Music School in die Taberna Dei Oos ouditorium aangebied.

Eienaar van Rock Hard Music School, JP Duvenage, sê hy is baie in sy noppies met hoe suksesvol vanjaar se Skouspel verloop het, asook die optredes van Limpopo se beste talent. Van die beligting en klank tot optrede van elke kunstenaar kan met die beste van Suid-Afrika se musiekvertonings vergelyk word.

“Ons het vanjaar besluit om die Limpopo Skouspel oor twee dae te strek maar gaan weer die vertoning tot een aand beperk volgende jaar. As organiseerders is ons heel in ons noppies met die ondersteuning van die kunstenaars en die gehoor,” sê Duvenage.

Hy las by, oudisies vir die Limpopo Skouspel 2018 is reeds in aanvang en ‘n beoordeelaarspaneel is reeds in plek om kunstenaars te keur.

Hy sê kunstenaars wie belangstel om op te tree kan sy studio in 76 Jorissenstraat besoek vir oudisies of hom by 073 604 6737 skakel vir meer inligting.

Tydens Saterdagaand se spoggeleentheid het kunstenaars soos Mia Louw, Anneke Serfontein en Mischa Becker onder meer die gehoor bekoor.

‘n Aantal plaaslike skoolkore, Curro Heuwelkruin se juniorkoor en kamerkoor en Mitchell House se koor is ook ‘n geleentheid gebied om hul talent te wys.

Die juniorkoor van Curro Heuwelkruin is onder meer een van Polokwane se skoolkore wat Saterdagaand by die Limpopo Skouspel opgetree het.

Coastal Radio het die vertoning bygewoon en dit lewendig uitgesaai. Die ander plaaslike kunstenaars wat opgetree het is Jan en Daleen Curtin, Rentia Grobler en Leoné en Taylor Smith.

Duvenage sê vir 2018 se Limpopo Skouspel kyk hy en sy mede-organiseerders na die moontlikheid om ook ‘n nasionale kunstenaar te kry om saam met die plaaslike talent te kom optree.

roelof@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button