NewsSchools

Zuhan voel tuis op die sportveld

Zuhan is ‘n kranige sportman wat sy tyd tussen rugby, krieket en atletiek verdeel.

POLOKWANE – Hoeveel 10-jariges sal, sonder die hulp van ‘n volwassene, inspring en ‘n vriend in nood help?  Zuhan Labuschagne, ‘n Laerskool Pietersburg-Oos, gr.4-leerder, het onlangs ingespring en ‘n plan gemaak toe een van sy kriekatspanmaats se kolf gebreek het.

Sy ma, Izel, vertel wat gebeur het.

“Die seuns het gespeel toe een se kolf  na ‘n kolfhou middeldeur breek. Zuhan het vining na die aftigter, Dewald Weterman, gehardloop om uit te hoor wat ‘n nuwe kolf kos. Daarna het hy met sy maats gaan praat en almal het aangebied om R50 by te dra. Sommige spelers kon meer bydrae, en spoedig kon hulle ‘n nuwe kolf aan hul spanmaat oorhandig. Ek is geweldig trots op my seun.”

Zuhan is ‘n kranige sportman wat sy tyd tussen rugby, krieket en atletiek verdeel.

“Ek het in gr.R bulletjie rugby gespeel en hierdie jaar vir die eerste keer duikrugby begin speel. As o/10-span het ons al ons wedstryde in Super 12 gewen. Ek geniet dit baie om rugby te speel.” Sy gunsteling span is die Goue Leeus en hy skree ook vir die All Blacks.

Bo en behalwe vir die Super 12-wedstryde wat sy o/10-span almal gewen het, het hulle ook verskeie ander wedstryde gewen. “Ek was vir een wedstryd ook as kaptein aangewys en het ook ereklere by die skool ontvang. Ons was ook Limpopo-ligawenners.”

In gr.1 het Zuhan begin krieket speel en hy vertel trots dat hy ‘n veelsydige speler is, met ander woorde, ‘n kolwer, veldwerker en bouler. “Die lekkerste in krieket is om ‘n ses te slaan en die slegste is om tydens jou eerste kolfbeurt, die eerste bal, vir nul uitgeboul te word. Die heel moeilikste deel van krieket is om as ‘n o/10-speler 100 lopies te slaan.”

Zuhan kry ekstra krieket afrigting by Dewald Weterman en skree vir die Proteas en Titans. In krieket word hul kapteinskap afgewissel en Zuhan vertel dat hulle verlede jaar slegs een van hul vier wedstryde gewen het, maar dat hulle hierdie jaar reeds drie uit drie wedstryde gewen het.

Na al die krieket en rugby sal ‘n mens dink dat Zuhan genoeg sport beoefen, maar tog het hy nog tyd en energie vir atletiek ook. Sedert gr.1 word hy deur Deon Jewaskiewits afgerig, hy neem deel aan voëltjiesport, P1 Interlaerskole, sjokolade-atletiek, top 20 en Super 12.

“Ek hardloop 60 m, 80 m en 100 m en spring ook ver. Hierdie jaar was ek ook deel van die Limpopospan en is aangewys as die 100 m Limpopo kampioen. Tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe eindig ek 14de in die 100 m.”

Tydens die Prisma kampioenskappe skop Zuhan stof in die ander atlete se oë en is verlede jaar aangewys as die beste naelloper.

“In gr.1 het ek by Zanis Gymnastics Academy aangesluit en SA-vloer gewen. In my vrye tyd werk ek graag in die tuin en kuier saam met my vriende. Ek gebruik ook naweke om op te vang met my akademie, aangesien die weeksdae soms te kort is daarvoor.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

Related Articles

Back to top button