Bosveld NewsNews

Heerlike Lentedag verdoesel deur rioolstank

Riool wat in die speelarea van Trapklippies Kleuterskool opstoot en die gesondheid van die kleuters bedreig, laat die eienaar van dié skool met haar hande in haar hare.

MOKOPANE – Elize Jansen, eienaar van Trapklippies, is moedeloos gesukkel met die Mogalakwena Munisipaliteit oor riool wat in die skool se erf opstoot en die kinders se speelgenot belemmer en hulle gesondheid bedreig.

Volgens Jansen sukkel sy al lank met die riool. “Ek is al moedeloos en moeg gepraat met die munisipaliteit en sit met ‘n stink storie op hande. Met my aankoms by die skool Donderdagoggend net voor 07:00 het ek die erf onder rioolwater gekry. Ek was woedend en het vir Yolande Coetzee van die DA gebel om te kom help.”

Volgens Jansen was Coetzee vinnig daar. Sy het die munisipaliteit gekontak en Khutjo Tsebe, Afdelingshoof van sanitasie kon die oorloop stop. “Tsebe het gesê hy sal die waterkar dadelik stuur om die terrein skoon te maak.”

Jansen sê daar was teen Vrydagoggend nog geen waterkar in sig nie. “Intussen moet al die kinders binne die huis bly omdat dit te onhigiënies was om buite te speel. ‘n Vrolike Lentedag was verdoesel deur die stank wat in die lug gehang het.”

Jansen sê sy het Tsebe weer gebel wat toe die waterkar gestuur het. Die bestuurder van die waterkar het vir Jansen gevra wie hom gaan help om die pype vas te hou. “Ek was uit die veld geslaan en het vir hom gesê dit is nie my verantwoordelikheid nie.”

Volgens Jansen het die bestuurder aan haar genoem dat hy baie begrafnisse het waar hy moet wees. “Ek het toe besluit om Coetzee en Bosveld te kontak.”

Jansen sê Tsebe en sy span het vyf minute later daar opgedaag en gehelp om die terrein skoon te spuit. “Hulle het nie met chloor gespuit soos hulle gesê het nie, maar net met skoon water. Dit sal nie die terrein ontsmet nie. Ek en my personeel het ingespring met besems en die terrein begin skoonmaak sodat die kinders darem buite kan speel.

Yolande Coetzee (DA raadslid), Khutjo Tsebe (Afdelingshoof van sanitasie by die Mogalakwena Munisipaliteit) en sy span Johannes Masemene en Lesiba Mapato.

“Ouers laat hulle kinders in my sorg en dit is my verantwoordelikheid om toe te sien dat hulle veilig is. Met die situasie tans lei my skool se naam daaronder en die kinders se gesondheid is in gevaar.”

Volgens die Departement van Gesondheid se webwerf is siektes wat veroorsaak word deur kieme wat deur riool versprei word salmonellosis, diarree, tragoom, melioïdose, gastro-enteritis, hepatitis A, giardia, lintwurm infeksie, draadwurm infeksie en haakwurm infeksie. Hierdie siektes, kieme en parasiete kan direk versprei word as mense in kontak kom met riool of toiletafval. Dit kan ook indirek versprei indien iemand in aanraking kom met diere, vlieë, kakkerlakke, honde en katte. Hierdie siektes hou groot gesondheidskomplikasies en gevare vir mens in en selfs die dood indien nie vinnig opgetree word nie.

Bosveld het aan Tsebe genoem dat die probleem moontlik mag ontstaan omdat die rioolstelsel dalk verouderd is en ook nie meer voorsiening maak vir al die uitbreidings en veranderings in die woonbuurt nie. Die navraag na verblyf het geweldig toegeneem, erwe is onderverdeel en meenthuiskomplekse is gebou.

Volgens Tsebe is die stelsel voldoende en is die ontwikkeling van meenthuise, komplekse en kleuterskole nie die oorsaak van die verstoppings nie.

“Die grootste oorsaak van verstoppings is vreemde voorwerpe wat in dreine af gegooi word. Die munisipaliteit kan nie verantwoordelik gehou word vir blokkasies nie.”

Hy meen Trapklippies se probleem is weens die erf wat nie teen die regte helling na die pad toe afloop nie. Die eienaar is verantwoordelik om toe te sien dat die erf teen ‘n skuinste na die pad toe loop om die opdam van die riool te voorkom.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button