Local NewsNews

Yolande Korkie damestee

By vanjaar se N.G. Kerk-Noord se jaarlikse damesoggend het Yolande Korkie van haar en haar man, Pierre, se aanhoudingshel vertel en hoe hul geloof hul daardeur gedra het.

POLOKWANE – Die damestee was Saterdagoggend in die kerksaal gehou.

Yolande Korkie vertel van haar en haar man se aanhoudingshel en hoe hul geloof hul daardeur gedra het.

Yolande en haar man is op 27 Mei 2013 deur die Al-Kaïda-terreurgroep in Jemen ontvoer kort nadat hulle beplan het om terug na hul geboorteland, Suid-Afrika, te keer.

Die egpaar en hul twee kinders was vir jare in Jemen woonagtig en het na die dood van Pierre se pa besluit om terug na Suid-Afrika te keer.

“Tydens die ontvoering was ons van alles gestroop, tot ons klere, en het besef dat al wat ons het, is Jesus,” vertel sy. Yolande het vir die gaste ‘n beeld geskep van die gebeure waardeur die paartjie beproef was gedurende die ontvoering.

“Ons het besef dat ons die Bybel nodig het en ons Sy woord moet ken. Hoe lief is ons vir die Here as ons nie Sy woord ken nie?” vra sy die gaste.

Na onderhandelinge is Yolande vrygelaat maar Pierre was steeds in aanhouding waarna hy, op die dag van sy vrylating, doodgemaak was.

As deel van haar genesingsproses en lewenspad saam met God, vertel Yolande, het sy die besluit geneem om die ontvoerders, wat ook haar man dood gemaak het, te vergewe.

“Sonder Jesus is ek niks anders as ‘n terroris nie. ‘n Mens moet bid vir mense wat nie vir God ken nie en ek het besluit om ook vir die mense wat ons ontvoer het te bid,” verduidelik sy. Na haar praatjie het gaste geleentheid gehad om aan eetgoed te smul, met Yolande te gesels en haar boek oor die ontvoering, 558 Dae, te koop.

As deel van die damesoggend het die kerk ook ‘n kartonhouerprojek ondersteun deur skoenbokse met basiese benodigdhede vir volwassenes en kinders te vul wat dan deur Vision of Hope aan mense in nood geskenk gaan word.

Een van die Stigterslede en Direkteure van Vision of Hope, Brenda Koekemoer, het die bokse namens die instansie ontvang.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button