Skok, ongeloof na Benno de Klerk se skietdood

Gert Ehlers, ‘n woordvoerder en prokureur van die regsfirma DDKK, waar die bekende prokureur Benno de Klerk as hoof-uitvoerende beampte werksaam was, het bevestig dat hy die laaste persoon was wat Maandag­aand met De Klerk gepraat het voordat hy kort daarna meegedeel is van sy dood in die parkeerarea van die firma. Ehlers het bevestig …

Gert Ehlers, ‘n woordvoerder en prokureur van die regsfirma DDKK, waar die bekende prokureur Benno de Klerk as hoof-uitvoerende beampte werksaam was, het bevestig dat hy die laaste persoon was wat Maandag­aand met De Klerk gepraat het voordat hy kort daarna meegedeel is van sy dood in die parkeerarea van die firma.
Ehlers het bevestig dat De Klerk voor sy dood ‘n SMS aan sy goeie vriend, Gordon Ferns van Limpopo Toyota, gestuur het en dat Ferns die eerste persoon was wat op De Klerk se liggaam op die plaveisel in die parkeerarea ‘n entjie vanaf De Klerk se bakkie afgekom het.
Provinsiale polisiewoordvoerder Motshe Ngoepe het die voorval te Platinumpark 19 bevestig en gesê die oorledene is omstreeks 20:45 in ‘n plas bloed met ‘n oop wond aan die kop en ‘n rewolwer langs hom gevind.

Benno de Klerk.

“Die motief vir sy dood is onbekend, maar ondersoeke in dié verband word gedoen,” het Ngoepe gesê en ‘n beroep op die publiek, wat moontlik oor meer inligting rondom die voorval beskik, gedoen om met die ondersoekbeampte by 072 492 9635 in verbinding te tree.
Ehlers sê dat die parkeerarea ‘n sekuriteitsgebied is en dat slegs ‘n handjievol personeel wat hul motors daar parkeer, toegang daartoe het.
“Daarom vermoed ons in die stadium geen vuilspel nie, maar die saak word, soos standaardprosedure vereis, forensies ondersoek.”
“Ons 22 personeellede is in ‘n staat van totale skok. Niemand het vermoed dat Benno sy lewe gaan neem nie. Hy was baie opgewek en het selfs grappies gemaak toe ons Maandag­aand kort voor sluitingstyd gepraat het. Ek het aangebied om die kantoor te sluit, maar Benno het daarop aangedring dat hy dit wil doen.”
De Klerk is in April vanjaar met Ilse getroud en hy het haar seuntjie, Lucius wat in Oosskool is, as sy eie grootgemaak. Die drie was onafskeidbaar.
“Daar is in die stadium net vrae,” sê Ehlers en voeg by dat die personeel uit respek vir sy dood en weens skok eergister almal huis toe gestuur is, maar gister (Woensdag) weer hul normale dagtake hervat het.
Ehlers sê verskeie vriende, regskollegas en predikante het Dinsdagoggend by die besigheid opgedaag. “Van die kollegas het hul professionele hulp aangebied met sake wat deur De Klerk hanteer moet word.”
Hy sê die ondersteuning van vriende was oorweldigend, wat getuig van sy gewildheid en geliefdheid as mens.
Volgens Ehlers kan daar nie bespiegel word oor sy motief nie. “Niemand weet in hierdie stadium nie en spesifiek ook nie sy vrou nie, want Benno het nooit sy werksdruk huis toe geneem of dit met haar bespreek nie.”
Ferns, wat reeds die afgelope sewentien jaar met De Klerk bevriend was, het aan Polokwane Observer gesê hy was stomge­slaan en verbysterd nadat hy die teksboodskap ontvang en op De Klerk se liggaam afgekom het. “Benno was ‘n goeie en baie vrygewige mens. Hy was altyd die een wat eerste sy hand opgesteek het om mense in nood te help,” het Ferns gesê.
Dirk Badenhorst, jare lange goeie vriend van De Klerk, beskryf hom as ‘n goedingeligte en belese mens. “Benno was joviaal en ons het goeie tye saam deurgebring.” Hy lig veral twee eienskappe uit: De Klerk se liefde en besondere vaardighede met die gebruik van Afrikaans in woord en vers, asook sy buitengewone vernuf agter die kospotte. “Hy was ‘n ware heer en in sy teenwoordigheid was jy altyd verseker van kwaliteitgeselskap.”
Die roudiens vind môre (Vrydag) om 11:00 vanuit die NG Kerk, Pietersburg-Noord in Dorpstraat plaas waarna ‘n privaatverassingsdiens gehou sal word.

Storie: WILLIE ESTERHUYSEN
>>willie.e@mwebbiz.co.za

Exit mobile version