Pietman die Skot – van straathoek-kunstenaar tot storieman

Peter Mitchell, beter bekend as Pietman die Skot of Pietman Geldenhuys vertel dat hy nie altyd ‘snaaks’ was nie.

POLOKWANE – “Ek het na skool besef dat ek in die musiekwêreld wil wees en in London gaan werk. In London het ek regtig besef hoe baie ek die musiekbedryf geniet,  ek het op straathoeke gestaan en kitaar gespeel. ‘n Kroegeienaar het my raakgesien en genooi om in sy kroeg te kom speel.”

“Ek onthou die gees in die Apollo Teater, dit was iets wat ek altyd sal onthou en dan natuurlik ook my optrede by die Hard Rock Café in Manchester, dit was iets besonders. Alhoewel elke optrede spesiaal is onthou ek ook toe ek vir Nataniël by Afrikaans is Groot nagemaak het.” Meeste van die stories wat hy vertel is reeds gevestigde stories, hy kleur hulle net ‘n bietjie in. Hy dink ook baie van sy material self uit en gebruik insette van die gehoor om nog stories die lig te laat sien.  Hy vertel dat hy iemand is wat op sy voete kan dink en dat hy elke optrede op meriete aanpak.

Sy klankman, Franco Jamneck, vertel dat hy gereeld kliphard sit en lag tydens die optredes.

“Pietman verras ‘n mens elke keer as hy op die verhoog klim. Van die storie het ek al gehoor, maar ek lag steeds elke keer as hy dit vertel,” vertel Franco laggend.

Aangesien Pietman soveel optredes het, vertel hy dat hy mooi moet beplan en ‘n goeie balans handhaaf tussen sy loopbaan en sy privaat lewe.

“Ek is ‘n baie private mens en kuier eerder alleen saam met ‘n klein groep vriende as om ‘n groot groep vriende te onthaal. Ek het wel gekies om in die kollig te wees, dus kan ek nie kla as mense met my wil gesels terwyl ek privaat saam met vriende kuier nie.”

Tien minute voor ‘n optrede raak Pietman stil en vereenselwig hy hom met sy gehoor. Hy kry sy kop skoon en doen ook stemoefeninge.

“Ek besef dat ek ‘n groot verantwoordelikheid het om my gehoor te vermaak en dit is vir my ‘n geweldige groot voorreg. Ek hanteer elke optrede soos ‘n nuwe een en herhaal nie vorige optredes nie. Ek is steeds elke keer op my senuwees voor ‘n optrede, soms meer as ander kere.”

By die huis is hy ‘n ander mens. “Ek is ‘n ‘grumpy’, krieket-fanatikus wat ook daarvan hou om golf te speel.” Hy lees ook graag en neem sy vrou, Arné, uit vir ete.

“Ek geniet dit ook om vuur te maak en ‘n lekker staanrib te braai terwyl ek by die huis ontspan. Dis dan ook hier waar ek stil raak en besef hoe bevoorreg ek is om veilig by my huis en by my vrou te wees.”

[VIDEO] Pietman is onlangs deur Janine Kruger, Mev. Polokwane finalis vir 2018 genooi om in Polokwane op te tree ten bate van STOP – Stop Trafficking Of People-beweging.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version