Local NewsNews

Bedrogspul met familie-ekspo, betrokkenes is witwarm

Terwyl plaaslike sakelui blykbaar deur ‘n groep mense wat ‘n sogenaamde plaaslike koerant bedryf met betaalde advertensies wat nooit verskyn het nie, ingedoen is en glo steeds nie enige terugbetaling ontvang het nie, het dieselfde groep blykbaar weer besighede ‘n rat voor die oë gedraai met ‘n familie-ekspo wat die naweek sou plaasvind, maar op …

Terwyl plaaslike sakelui blykbaar deur ‘n groep mense wat ‘n sogenaamde plaaslike koerant bedryf met betaalde advertensies wat nooit verskyn het nie, ingedoen is en glo steeds nie enige terugbetaling ontvang het nie, het dieselfde groep blykbaar weer besighede ‘n rat voor die oë gedraai met ‘n familie-ekspo wat die naweek sou plaasvind, maar op kort kennisgewing gekanselleer is.
Polokwane Observer het verskeie klagte oor die beweerde bedrogspul ontvang en plaaslike sakevrou, Elsie Venter sê hulle is in Maart met byna R5 600 ingedoen toe hulle vir ‘n advertensie betaal het wat nooit verskyn het nie. Venter sê hulle is meegedeel dat die koerant op die manlike mark gemik is en daarom het hulle die geleentheid aangegryp om hulle vuurwapen- en ammunisiebesigheid te adverteer. Venter het korrespondensie tussen haar en die koerant se verteenwoordiger aan Polokwane Observer verskaf, maar sê alles is net leë beloftes en sy het nog nie ‘n sent teruggekry nie.
Wat die familie-ekspo betref, waar minstens elf kunstenaars waaronder bekende name soos Arno Jordaan, Gerhard Steyn, Irene-Louise van Wyk en Vernon Barnard sou optree, is besigheidseienaars woedend nadat hulle ‘n aansienlike bedrag vir stalletjies moes opdok net om op kort kennisgewing ingelig te word dat die geleentheid gekanselleer is. Uitstallers is nie dieselfde bedrag vir stalletjies gekwoteer nie.
Die ekspo sou onder die vaandel van die betrokke koerant aangebied word. ‘n Plaaslike verfhandelaar wat voorheen met dié groep mense te doen gehad het, het byna R2 000 vir ‘n stalletjie betaal en glo dat hy sy geld kwyt is.
Nog ‘n besigheid het byna R3 000 vir ‘n stalletjie betaal. “Ons was verlede Woensdag by die skouterrein en daar was slegs ‘n paar tafels waar die sogenaamde biertuin sou wees, opgeslaan. Die volgende oggend het ons die e-pos ontvang wat ons in kennis gestel het dat die ekspo gekanselleer is,” sê ‘n anonieme werknemer.
Arno Jordaan het op Facebook ‘n boodskap geskryf wat lees: “Middag almal. Die vertoning van môreaand (Vrydagaand 1 September) in Polokwane sal ongelukkig nie meer kan plaasvind nie, aangesien die kliënt nie die kontraktuele verpligtinge kon nakom nie weens die borge wat onttrek het. Hoop om spoedig daar op tree en dan sal die wiele rol.”
Volgens ‘n e-pos wat deur een van die organiseerders aan uitstallers gestuur is, is van die redes waarom die fees gekanselleer is die Zion Christian Church (ZCC) se September-saamtrek en omdat studente van die Universiteit van Limpopo glo ‘n betoging beplan. Die organiseerder beweer sy het R5 miljoen verantwoordelikheidsversekering gekry, “maar ongelukkig as enige iets nie in plek is of ‘n struktuur het nie die regte papiere nie (stage) kan hulle dit nie goedkeur omdat dit ‘n gevaar inhou vir die mense. Ek het al die hele oggend agter die stage aangehardloop. Hy was in Botswana om goed reg te maak en het eers vandag teruggevlieg. Die wet sê dat ‘n struktuur 48 uur voor die hekke oopmaak al opgeslaan moet word vir die nodige inspeksie. Ons het wel grasie gekry tot vandag (Donderdag) 3 uur. Dit is een uur….twee ure voor inspeksie. Met gevolg is die event is nie goedgekeur nie.” (sic) Sy sê verder dat hulle bereid is om geld aan uitstallers terug te betaal en dat hulle “met ‘n huilende hart om verskoning vra.”
Pogings om met die organiseerder in verbinding te tree was onsuksesvol. Die sogenaamde koerant se webwerf is ook buite werking.
Polokwane Observer is ook ingelig oor die moontlikheid dat die organiseerders glo geen betaling aan die Polokwane Munisipaliteit gemaak het om die ekspo aan te bied nie. Munisipale kommunikasiebestuurder, Matshidiso Mothapo het bevestig dat die skouterrein wel vir die naweek bespreek was, maar dat daar Vrydag nog geen betaling gemaak is nie waarna die terreinbestuur van die munisipaliteit aangeneem het dat dit nie sal voortgaan nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button