HPP onnie beloof trou

'n Geliefde onderwyser aan die Hoërskool Piet Potgieter het op Saterdag 26 Augustus die knoop deurgehak.

MOKOPANE –  Bradley Pieterse het verewig trou aan Valerie (Linford) beloof op Kuthaba Bush Lodge naby Modimolle.

Dié twee het mekaar destyds by Emile Honiball, ‘n prokureur op die dorp, se firma ontmoet. Valerie sê toe sy vir Bradley ontmoet het, het sy dadelik geweet dit is haar trouman wat voor haar staan. Hulle is vanjaar al reeds vier jaar in ‘n verhouding. Valerie werk tans by Patty de Beer Finansiële Dienste as ‘n persoonlike assistent.

Bradley se hoogtepunt van dié dag was toe sy aanstaande saam haar ouma by die kerk inloop. Hy voorspel dat hulle op hul oudag saam sal terugkyk na ‘n waardevolle huwelik en altyd saam lag. “Ek gaan ons kinders en kleinkinders op hul tone hou,” vertel hy laggend aan Bosveld.

Valerie kan nog goed onthou hoe hy haar die ja-woord gevra het. Hy het haar op ‘n zipline avontuur geneem.

Sy sê dat al die stres rondom troubeplanning die moeite werd is. Sy vertel aan Bosveld met groot opwinding dat sy vas geglo het dat sy oor haar rok gaan val. Sy herroep hul danslesse en noem hul dansvloeropening as haar hoogtepunt. Sy hoop dat hulle voorbeeldige ouers eendag sal wees soos wat haar ouers vir haar is.

Die Pieterse-egpaar glo ‘n suksesvolle huwelik word gebou op eerlikheid as fondasie. Hulle hou vandeesweek wittebrood op Sedgefield in die Wes-Kaap.

lionel@nmgroup.co.za

Exit mobile version