‘n Swetterjoel van balle vlieg om Sous Greyvenstein vir oulaas te groet

Familie, vriende, 'gholfkollegas' en kennisse het Dinsdagmiddag by die Polokwane Gholfklub, waar Sous Greyvenstein 'n voormalige president was, hul eerbied betoon deur sy lewe te vier.

POLOKWANE – Greyvenstein (57), ‘n bekende argitek en geliefde inwoner van die stad, is Sondag tuis oorlede na ‘n stryd teen kanker.

Dié wat hul laaste hulde gebring het, het om 17:00, toe die son begin sak, almal gelyktydig ‘n dryfhou vir Greyvenstein geslaan.

Kegels is oor die breedte van die eerste en 18de putjies se skoonvelde opgestel as merkers vanwaar die naasbestaandes en vriende kon afslaan.

Die dreuning van Harley Davidson-motorfietse het die lug gevul soos lede van dié klub in Polokwane, met wie Greyvenstein ook ‘n noue verbintenis gehad het, opgedaag het om simpatie te kom betoon.

Die Harley Davidsonklub het ook hulde gebring aan Sous Greyvensteyn.

Hy het ‘n passie vir motorfietse gehad en het self ‘n Harley besit.

In die klubhuis hang ‘n ererol van spelers wat sedert die laat 1980’s kolhoue behaal het, as stille getuienis van Greyvenstein se kolhou sowat vyf jaar gelede.

Greyvenstein se seun, Gust, was ook teenwoordig Dinsdag, en het sy pa se kolhou onthou asof dit gister gebeur het.

Gust Greyvensteyn met sy sy suster Chloé net agter hom, maak gereed om ‘n dryfhou af te slaan as huldeblyk ter ere van hul pa Sous.

“Ek onthou wel dit was die laaste putjie, die vierde putjie om presies te wees, van die dag se spel toe my pa die kolhou geslaan het. Ek onthou hoe hy sy gholfstok oor sy skouer gegooi het, sy pet met sy hand liggies van sy kop afgeklap het, in ongeloof oor die hou. Ek sal dit nooit vergeet nie,” sê Gust.

Mede-gholfspelers, familie en vriende van Sous Greyvensteyn slaan ‘n dryfhou as huldeblyk af oor die eerste en 18e skoonvelde by die Polokwane Gholfklub.

Presies om 17:00 Dinsdag het die gholfklub se sirene die afslaan van die balle as huldeblyk aangekondig en ‘n swetterjoel balle het feitlik gelyktydig oor die twee afgemerkte skoonvelde gevlieg. Greyvenstein se gesin het elk ook ‘n hou geslaan.

Celeste Greyvensteyn, nie self ‘n gholfspeler nie, het ook ‘n dryfhou geslaan ter herinnering aan haar man, Sous.

Sy vrou, Celeste, vriende en familie het sy lewe gevier tydens die samekoms by die gholfklub, en sy begrafnis sal ‘n privaat gesinsbyeenkoms wees.

 

Lees meer oor Sous Greyvenstein en hoe hy onthou word deur vriende en familie in die week se Review Weekend

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version