Sonja groet Polokwane, maar gaan nie ‘n vreemdeling word nie

Wanneer dit kom by 'n liefde vir die gemeenskap hê en betrokke raak by die mense in nood, is daar min inwoners wat kan kers vashou by Sonja Randall.

POLOKWANE – Vir haar meer as 30 jaar in die stad was Sonja betrokke by verskeie organisasies en het deur haar werk by Absa ook die kans gekry om baie van die nood in die gemeenskap te verlig.

Sonja vertel dat van haar kosbaarste oomblikke in die stad haar huwelik en die geboorte van haar seun is. “Daar is nie woorde om te beskryf hoe lekker dit is om mense te help en te sien hoe die verskil inkom in wat jy doen nie,” vertel sy.

Sy raai mense aan om in hul gemeenskap rond te kyk en te sien waar daar iets nodig is as hulle mense wil help.

“Ongelukkig is daar baie mense wat van mense se goeie harte misbruik maak en wat nie altyd in nood is nie. Praat met ander mense oor die plek wat jy wil help om seker te maak die plek is opreg en het regtig hulp nodig,” is haar raad.

Sy vertel haar lewe in haar nuwe tuisdorp, Upington gaan bestaan uit haar man help met sy besigheid daar en die gemeenskap te leer ken sodat sy wanneer sy kans kry mense kan begin help in die areas waar hulle dit nodig het.

“Daar is soveel mooi herinneringe wat ek saam met my neem en al wat ek aan al my vriende hier kan sê is baie dankie vir al die jare se vriendskap en ondersteuning. Maar julle is nie heeltemal van my ontslae nie want ek gaan nog baie Polokwane toe kom,” skerts sy.

“Ek wil graag meer mense aanspoor om ander te help en wil graag ook die media opdra as ‘n bron van inligting. Die mense in die koerantwese weet dinge wat baie ander nie weet nie, so vertrou hulle oordeel,” voeg Sonja by.

Sy vertel haar eindbestemming is ‘n huisie by die see en dat sy graag meer van haar seun sal wil sien maar dat sy eintlik nou verder weg van hom af verhuis.

Een van die oomblikke wat sy altyd sal koester van haar tyd in die stad was toe sy saam met Absa se mense ‘n poppekas gaan hou het waartydens van die ‘akteurs’ die storie vergeet het. “Ewe skielik het die storie in ‘n bankroof ontaard en almal het maar met die idee saam gegaan. Dit was baie pret so onbepland,” lag sy.

Sonja se wens is dat die mense in die stad sal voortgaan om mense te help en dat die mense wat gehelp word ook op ‘n dag na ander ook sal omsien en so die gemeenskap van die stad mekaar sal aanhou bystaan en help in moeilike tye.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version