Koeëlvastebaadjie red Mokopane SOS-offisier se lewe

Reaksie-offisier van Special Operations Solutions (SOS), Willie Harmse, het 'n noodlottige skoot aan die regterkant van sy bors oorleef

MOKOPANE – Willie Harmse vertel: “Ons het verlede week Woensdag net na 16:00 ‘n oproep ontvang van ‘n vrou wat ons in kennis gestel het dat sy kapt. Dawie Maree van die Mahwelereng-eenheid op die Percy Fyfe-pad gekry het waar hy ‘n verdagte voertuig van die pad afgetrek het. Ons is na die toneel waar geen selfoonopvangs is nie en het Maree daar gekry. Hy het ons ingelig die verdagtes het van die toneel gevlug.”

Volgens Harmse het hy en sy kollega, Martin van Eck, die verdagtes in die nabygeleë bosse gaan soek. “Ek en Van Eck het verskillende rigtings ingeslaan. Ek het om ‘n bos geloop toe iemand skielik ‘n skoot afvuur en ek het kort daarna my bewussyn verloor.”

Van Eck sê hy het die skoot gehoor en Harmse ‘n paar keer op die radio geroep, maar geen antwoord gekry nie en toe besef iets is fout. “Ek het op hom afgekom in die bosse waar hy op die grond gelê het en sy bewussyn begin herwin het.”

Die koeël het die plaat van die koeëlvaste baadjie getref.

Van Eck sê as Harmse nie sy koeëlvastebaadjie aan gehad het nie, sou hy dood gewees het. Die koeël het in sy borsgedeelte teen sy baadjie vasgeslaan. Die polisie is uitgeroep en ‘n soektog na die verdagtes is van stapel gestuur. ‘n Onbekende hoeveelheid dwelms is ook in die verdagtes se voertuig gevind. Volgens Van Eck is daar nog geen arrestasies gemaak nie.

Bosveld het by navraag geen verklaring van die Mokopane Polisie ontvang nie en lt. kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo-woordvoerder van die Polisie, het bevestig hulle het nog nie ‘n verslag oor die voorval ontvang nie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version