Local NewsNews

Verdwaalde demensielyer opgespoor danksy hulp uit alle oorde

Nadat ‘n bejaarde man van Durban-Noord, wat aan demensie ly, verlede Woensdag verward in Polokwanestrate begin ronddwaal het, het lede van die Polokwane GPF en die polisie in samewerking met Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes tot sy redding gekom. SAVF-bestuurder, Dawie Lee sê ‘n vergadering is vir eerskomende Maandag belê om vir dié man, wie …

Nadat ‘n bejaarde man van Durban-Noord, wat aan demensie ly, verlede Woensdag verward in Polokwanestrate begin ronddwaal het, het lede van die Polokwane GPF en die polisie in samewerking met Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes tot sy redding gekom.
SAVF-bestuurder, Dawie Lee sê ‘n vergadering is vir eerskomende Maandag belê om vir dié man, wie se identiteit beskerm word, die nodige hulp te kry en hom na ‘n tehuis in Pietermaritzburg, nader aan sy familie, oor te plaas.
Volgens Lee het die man ‘n plaas by Waterpoort buite Louis Trichardt en reis gereeld tussen die plaas en sy huis in Durban. “Hy het vir ‘n geruime tyd glo nie sy medikasie gebruik nie en geld by ‘n bank in die middestad onttrek toe hy skielik nie meer weet waar hy is nie en met Groblerstraat in die rigting van Savannah Mall gestap het. Op pad het hy waarskynlik ‘n huis gesien wat soortgelyk aan syne in Durban is en oor die heining geklim. Huisbewoners het hom gewaar en die polisie geskakel.”
Die polisie het waarskynlik die bejaarde se vrou geskakel waarna sy vir Lee om hulp gekontak het. Sy bakkie met drie honde in was ook soek. Werknemers van Martha Hofmeyr het hom by die polisiestasie gaan haal en tydelike huisvesting gebied.
Maatskaplike werker by die tehuis, Serena McLaren, het die GPF se hulp ingeroep om ‘n soektog na die bakkie te begin, maar dit het niks opgelewer nie.
Lee en McLaren het die volgende dag die bejaarde na ‘n bank geneem om vas te stel waar hy laaste geld onttrek het. Die rekeningstaat het die twee samaritane tot by ‘n bank op die hoek van Thabo Mbeki- en Landdros Maréstraat gelei. “Ons het toe geweet die bakkie kan dan waarskynlik nie ver daarvan wees nie. Die GPF het later die middag die bakkie met die honde in Schoemanstraat gevind. Die plaaslike DBV het aangebied om in die tussentyd na die honde om te sien,” sê Lee.
Die bakkie en die honde is intussen deur ‘n plaaswerker kom haal en plaas toe geneem. Die man ontvang ook behandeling en sy vrou het aan Lee bevestig dat haar man nie meer sy medikasie neem nie en die afgelope tyd aggressief geraak het. Sy wou aanvanklik nie die bakkie se sleutel vir hom gee nie, maar hy het daarop aangedring.
Lee het die GPF, die polisie en die DBV vir hul onbaatsugtige diens bedank. “Ons het voorwaar uitstekende diens uit dié instansies ontvang, veral die GPF-lede wat onverpoos na die bakkie gesoek het.”
McLaren het mense waarvan familielede aan demensie, ‘n mediese toestand gekenmerk deur ‘n inkorting van intellektuele funksionering ly, gemaan om seker te maak dat hulle gereeld hul medikasie neem. “Sorg dat daar altyd identifikasie met kontaknommers van die familie by ‘n lyer is in tye van soortgelyke gevalle om die proses om familie op te spoor, te vergemaklik. Familielede moet hulself ook met die siekte vergewis en die fases waardeer die pasiënt gaan, verstaan. Slimfone maak dit ook makliker om iemand op te spoor en dit is wys om sulke toepassingsfunksies op ‘n dimensielyer se foon te installeer, ” sê McLaren.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button