Dokters verwyder 0.5 kg gewas van weekoue baba

Hospitaalonkostes is alreeds oor R400 000 en plaaslike inwoners, Renier en Belinda Pretorius vra vir finansiële hulp

POLOKWANE – Plaaslike inwoners, Renier en Belinda Pretorius het soos die meeste afwagtende nuwe ma en pa gretig gewag op die geboorte van hulle kleine Madelein vroeg in Julie.

Die geboorte, vertel Belinda, het vroeg reeds verskeie uitdagings meegebring, en sy is op 1 Julie in die privaat hospitaal opgeneem, waar ‘n induksie geskeduleer was.

Hulle baba is eers op 4 Julie gebore, en groot was hulle verbasing toe hul kind met ‘n teratoom naby haar gesigarea gebore is – ‘n term waarmee hulle eers na die geboorte sou kennismaak.

‘n Teratoom is ‘n tumor wat verskillende tipes weefsel bevat, wat vel, been, hare en tande kan insluit.

In hulle geval was die teratoom ‘n weefselmassa wat gevorm het toe ‘n tweede eiersel nie toepaslik gevorm het nie.

Dié massa van hare, weefsel en tande het ‘n halwe kilogram geweeg.

Madelein is op 5 Julie na die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria oorgeplaas, aangesien die operasie wat gedoen sou moes word om die weefselmassa te verwyder, riskant is vir ‘n baba van skaars ‘n week oud.

Sowat ‘n week na die eerste toetse op Madelein gedoen is, is daar ook ‘n biopsie gedoen om te bepaal of daar kwaadaardige selle in die vergroeisel was.

Die week daarna is die toetsuitslae bestudeer en die besluit kon uiteindelik geneem word om die teratoom te verwyder. Aangesien die span spesialiste wat die prosedure moes uitvoer almal by Unitas Hospitaal werksaam is, is Madelein daarheen oorgeplaas.

Dié operasie sou volgens aanvanklike inligting 12 ure duur, maar was in vier ure voltooi.

“‘n Mond- en kaakspesialis, dr. Sarel Botha het ons meegedeel dat die operasie goed afgeloop het. Ons was baie geseënd,” vertel Renier.

Baba Madelein is steeds in die Unitas Hospitaal waar daar toetse gedoen word om te verseker dat kwaadaardige selle nie groei nie.

Daar is ook elders ‘n blokkasie wat dopgehou moet word.

Die egpaar is in Maart vanjaar getroud en sê hulle kan skaars wag om hul eersteling hier by die huis te hê.

“Ons wil haar net hier kry en vashou. Ons kon haar nog nie teen ons vashou nie as gevolg van die operasie en die pypies waaraan sy gekoppel is. Ons voel al baie emosioneel om mense in die winkels te sien met hul baba en te weet ons kind lê in die hospitaal so ver weg,” vertel die egpaar.

Hulle vertel dat die familie ook nie kan wag om klein Madelein te sien nie.

Die onkostes is reeds verby die R400 000-kerf en die gesin is nie medies verseker vir al die prosedures nie.

“Ons vra vir finansiële hulp vir Madelein. Ons het nou ons baba om ons oor te bekommer en weet nie hoe ons gaan oorleef met al hierdie mediese onkostes nie. Ons sal enige hulp waardeer.”

Dit is nog onduidelik hoe lank die baba gehospitaliseer moet wees.

Daar is sprake dat sy moontlik ‘n tragiale inplanting sal moet ondergaan, vertel Renier.

“Ons wil graag aan al ons dogtertjie se dokters baie dankie sê vir hul harde werk om haar veilig te hou. Daar is nie woorde om al die familie en vriende en kennisse en werkgewers te kan bedank vir al hul hulp en ondersteuning nie. Julle het ons deur ‘n moeilike tyd gedra en ons is opreg dankbaar vir alles,” vertel die egpaar.

Hier is die bankbesonderhede indien jy kan bydra:

Child Medi Organization

FNB, Tjekrekening

Rekeningnommer: 626 325 810 56

Branch Code: 250655

Swift code: firnzajj

Ref: Madelein

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version