Local NewsNews

Limpopo-skool oor godsdienspraktyke geteiken

Hoërskool Piet Potgieter in Mokopa­ne is een van meer as 20 skole landwyd wat onlangs briewe van die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie (Ogod) ontvang het waarin beweer word dat dié skole onwettige godsdienspraktyke beoefen. Dit volg nadat die Suid-Gautengse Hoërhof gedurende Junie vanjaar beslis het dat godsdiens wél by skole beoefen mag word, maar …

Hoërskool Piet Potgieter in Mokopa­ne is een van meer as 20 skole landwyd wat onlangs briewe van die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie (Ogod) ontvang het waarin beweer word dat dié skole onwettige godsdienspraktyke beoefen.
Dit volg nadat die Suid-Gautengse Hoërhof gedurende Junie vanjaar beslis het dat godsdiens wél by skole beoefen mag word, maar binne ’n bepaalde raamwerk, insluitend die Grondwet en die Skolewet.
Die kern hiervan is dat ’n bepaalde geloof nie bevorder mag word of voorkeur mag geniet ter uitsluiting/tot nadeel van ‘n ander geloof nie. Volgens Ogod dwing die skole wat briewe ontvang het Christenskap aan kinders en onderwysers op.
Jimmy Steele, hoof van Hoërskool Piet Potgieter, het navrae na Cobus Bekker, voorsitter van die skool se beheerliggaam verwys. Bekker wou nie kommentaar lewer nie, maar het bevestig dat die brief ontvang is en na die Federasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) verwys is vir aandag.
“Die skool is ‘n lid van Fedsas en wag vir leiding in dié verband,” het Bekker Dinsdag aan Polo­kwane Observer gesê.
“Die skole beskou die hofbevel as regverdig en billik en wil graag daaraan voldoen,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas op dié organisasie se tuisblad. Colditz sê Fedsas se standpunt dat skole se beheerliggame self die reëls vir godsdiensbeoefening in hul skole ooreenkomstig die Grondwet en die Skolewet kan bepaal, deur die hof gehandhaaf is.
“Die hof het ook saamgestem met Fedsas se argument dat die nasionale beleid oor godsdiens en onderwys nie afdwingbare reëls stel nie, maar eerder ’n belangrike dokument is wat riglyne verskaf oor godsdiens in onderwys.”
Colditz het bevestig dat slegs geringe aanpas­sings aan die betrokke beheerliggame se beleid, reëls en praktyke nodig is om wel aan die bevel te voldoen.
Fedsas het ook reeds inligting aan sy lede beskikbaar gestel ten einde die hofbevel korrek te interpreteer en by skole te implementeer.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button