Local NewsNews

Gesinsgeweld kan gestop word, verbreek die stilte, soek hulp

“Gesinsgeweld vind herhalend agter geslote deure plaas en het ‘n rimpeleffek op die hele gesin.” Die skreiende waarheid is verlede Vrydag deur Magdaleen de Klerk, direkteur van DDKK Prokureurs wat soms as regter waarneem, met vroue tydens ‘n funksie gedeel waar sy ‘n be­roep op vroue gedoen het om die stilte van dié onreg te …

“Gesinsgeweld vind herhalend agter geslote deure plaas en het ‘n rimpeleffek op die hele gesin.”
Die skreiende waarheid is verlede Vrydag deur Magdaleen de Klerk, direkteur van DDKK Prokureurs wat soms as regter waarneem, met vroue tydens ‘n funksie gedeel waar sy ‘n be­roep op vroue gedoen het om die stilte van dié onreg te verbreek, te praat en iets te doen.
Volgens haar is dit ‘n bose kringloop want kinders wat in só huis grootword, leer dat probleme met geweld opgelos word en pas dit as volwassenes weer met hulle kinders toe. Gesinsgeweld neem verskeie vorms aan: fisieke, finansiële, seksuele en emosionele magsmisbruik.
Die donker prentjie word met die volgende statistiek versterk, ironies juis in Vrouemaand.
“Meer as die helfte van strafverhore bevat komponente van gesinsgeweld. 45% vroue word aan fisieke of emosionele geweld blootgestel en 56% van Suid-Afrikaanse vroue word deur ‘n huweliks- of lewensmaat vermoor. Talle gevalle word nie eers rapporteer nie omdat die polisie se hantering daarvan ‘n probleem is,” sê De Klerk.
Volgens haar verkies vroue steeds om by haar maat/man te bly ten spyte van die feit dat hy haar misbruik as gevolg van die volgende redes:
* Sy vrees die konsekwensies en is te bang om stappe te neem
* Ekonomiese redes (selfs ekonomiese mishandeling deur die man)
* Die kinders. Waarheen gaan ek met my kinders?
* Hoop dat die verhouding dalk sal herstel
“Suid-Afrika het ‘n ongelooflike grondwet, een van die bestes in die wêreld, wat die regte van vroue beskerm want elke vrou het die reg op waardigheid en om vry van geweld te wees (artikel 12 van die grondwet). Dit moet egter toegepas word anders bly dit ‘n stuk dooie papier.”
Volgens De Klerk moet die saak by die plaaslike polisiestasie aangemeld word want dit is die polisie se werk om landsburgers te beskerm.
“Indien die polisie nie hulle werk doen nie kan ‘n klagte by die Onafhanklike Klagtekommissie gelê word, maar moenie die saak laat vaar nie en kry ‘n beskermingsbevel. Die man moet egter intussen uittrek of betaal vir alternatiewe verblyf vir die vrou want die wet op huishoudelike geweld maak voorsie­ning vir reëlings vir alternatiewe huisvesting vir haar. Familie, die kerk en maatskaplike werkers kan ‘n groot ondersteunende rol speel.”
Howe is intimiderend en regshulp is duur, maan De Klerk, maar sê sekere prokureursfirmas gee gratis regshulp op ‘n pro bono-basis (vir die nut van die gemeenskap). Regsklinieke vind ook gereeld plaas waar aangeklop kan word en die Menseregtekommissie met ‘n kantoor in die stad in Hans van Rensburgstraat, Library Gardens kan selfs gekontak word vir hulp.
“Ons het ‘n minimumvonnis wat deur die Wet op Gesinsgeweld vir sekere misdrywe soos moord en verkragting voorgeskryf word. Vir bende- of groepverkragting word ‘n lewenslange vonnis opgelê. In ‘n onlangse 2017-beslissing in Kaapstad waar ‘n vrou in ‘n misbruikte verhouding was en ‘n tussentydse beskermingsbevel gekry het, is sy deur die man ontvoer en twee keer verkrag. Die Hooggeregshof het hom skuldig bevind aan ontvoering en twee klagtes van verkragting en hy is lewenslank tronk toe gestuur.”
Die damesfunksie is ter viering van Vrouedag deur DDKK Prokureurs by die Pietersburgklub aangebied.

Storie & foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button