Local NewsNews

Stian se skokdood ruk die gemeenskap

Die bekende Meyer-leraarsgesin van die NG Kerk Pietersburg-Oos en jare lange inwoners van Polokwane, Tjaart en Ilze, en hul twee dogters, Marieke en Liezl, is Donderdagaand in rou gedompel na hul die skoknuus van hul seun en broer, Stian (27), se on­na­tuurlike dood ontvang het. Stian, ‘n werknemer van Pansolutions in Polokwane, was Donderdag besig …

Die bekende Meyer-leraarsgesin van die NG Kerk Pietersburg-Oos en jare lange inwoners van Polokwane, Tjaart en Ilze, en hul twee dogters, Marieke en Liezl, is Donderdagaand in rou gedompel na hul die skoknuus van hul seun en broer, Stian (27), se on­na­tuurlike dood ontvang het.
Stian, ‘n werknemer van Pansolutions in Polokwane, was Donderdag besig met die installering van sekuriteitskameras by ‘n Built It-tak by ‘n nuwe ontwikkeling in Pretoria toe geleide krag hom waarskynlik geskok en hy ongeveer drie verdiepings ver geval en sy kop ‘n palet vol dakteëls op die grond getref het. Reddings­pogings was tevergeefs en Stian is op die toneel dood verklaar.
Met Polokwane Observer se besoek Maandagoggend aan die pastorie, het ‘n besondere som­ber atmosfeer geheers. Stian se klere en ander besittings wat hy Woensdag saam met hom Pretoria toe geneem het vir sy werksopdrag is pas afgelaai en het as stille getuienis op die bank in die vertrek gelê waar met die ouerpaar gesels is. Stian het by sy ouers gewoon.
Stian het ‘n CCTV-kamera op die grond aan ‘n paal vasgeheg waarna die paal gelig en deur iemand anders geplant is. Hy is daarna tot by die kamera aan die paal opgehys wat naby die hoogspanningsdrade was en is waarskynlik deur die uitstraling as gevolg van geweldige hoë spanningsmagnetisme geëlektrifiseer toe hy aan die kameraomhulsel gevat het waarna hy afgeruk is en op die dakteëls geval het.
Net nadat die ongeluk gebeur het, het ‘n kollega van Stian die Meyers vanaf die toneel met die slegte nuus geskakel en ingelig dat hy bewusteloos is en sy hartklop baie stadig was.
Stian se werkge­wer sedert April 2016, Craig Rosendorff, het hom intussen na die Meyers se huis gehaas om hulle te ondersteun. Sowat ‘n uur later het mediese beamptes op die toneel bevestig dat hulle niks kon doen om sy lewe te red nie.
Craig beskryf Stian as ‘n ‘goeie seun’. “Hy was betroubaar, eerlik en noukeurig in sy werk en ‘n aanwins vir die maatskappy.” Craig sê die feit dat hy vroeg in sy nuwe loopbaan met ‘n maatskappyvoertuig beloon is, spreek van die feit dat hy ‘n vinnige leerder was wat met toewyding en gewilligheid altyd 110% van homself gegee het en altyd aangebied het om oortyd te werk.” Hoewel hy stil en gereserveerd was, was hy geliefd en populêr onder sy medewerknemers.
Sy jonste suster, Liezl, se trane vloei wanneer sy sê Stian of ‘Stu’, soos sy hom genoem het, was haar beste vriend en haar hele lewe.
“Hy het altyd seker gemaak ek weet dat hy my baie liefhet en dat niemand met sy klein sussie moet mors nie. Ek kan my nie ‘n lewe sonder jou voorstel nie. Baie dankie vir die broer wat jy was, niemand sal ooit jou plek inneem nie. Jy wou altyd net hê almal moet gelukkig wees en daar is geen persoon wat iets sleg van jou kan sê nie.” Haar wens is om nog net een keer vir hom te sê hoe lief sy hom het en ‘n boodskap van hom te kry dat hy veilig in die hemel is sodat haar hart gerus kan wees.
Stian het na verwerwing van sy matrieksertifikaat klankingenieurswese in Pretoria gestudeer en klankvermenging by geleenthede daar hanteer.
Musiek was volgens sy ouers sy grootste passie en hy kon goed kitaar speel.
Ilze is veral dankbaar dat Rosendorff Stian se potensiaal raakgesien het waar hy sy stempel die afgelope sestien maande afgedruk het. “Hy was baie trots op sy werk en ons kon sien dat hy gelukkig was,” sê sy.
Tjaart sonder sy seun se omgeehart en humorsin uit. “Ons gesinsvakansies by die see sal my altyd bybly, die kosbare ure wat ons saamgewerk het om sy ou Golf-voertuig te herstel en al die kuiers om die braaivleisvuur. Geld en aardse besittings was vir hom onbe­langrik.” Tog was hy oorstelpt van vreugde en baie trots toe hy onlangs ‘n maatskappyvoertuig ontvang het.
“Ek het al in die huis gewerk voordat Stian gebore is. Hy was altyd dieselfde, het altyd grappe gemaak en was soos my eie kind,” sê die Meyers se huishulp, Linah Rapakgadi, en voeg by dat sy baie lief was vir hom en elke dag aan hom sal dink.
Benewens sy ouers en susters laat hy ook sy grootouers, Bets en Ben Venter, swaer, Corné Ferreira en hegte vriende, Jaco en Kevin Vorster, na.
‘n Lewensvieringsdiens word Vrydag om 12:00 vanuit die NG Kerk Pietersburg-Oos op die hoek van Jones-, Betz- en Natorpstrate gehou.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button