Local NewsNews

Geliefde medebestuurder van shelter sterf skielik

Thys Booyjens, Myngenoegen shelter se medebestuurder en steunpilaar vir menige inwoners vir wie ‘n veilige hawe geskep word, is Maandag aan ‘n hartaanval tydens ‘n familiebesoek in Springs oorlede. Booyjens (58) is in Pretoria gebore waar hy sy hoërskoolloopbaan in 1977 aan die Hoërskool Randburg en militêre diensplig by Voortrekkerhoogte voltooi het volgens sy suster, …

Thys Booyjens, Myngenoegen shelter se medebestuurder en steunpilaar vir menige inwoners vir wie ‘n veilige hawe geskep word, is Maandag aan ‘n hartaanval tydens ‘n familiebesoek in Springs oorlede.
Booyjens (58) is in Pretoria gebore waar hy sy hoërskoolloopbaan in 1977 aan die Hoërskool Randburg en militêre diensplig by Voortrekkerhoogte voltooi het volgens sy suster, Driekie Booyjens.
Hy het twee dogters, Elsie-Jane en Lindie, uit ‘n vorige huwelik en het op verskeie plekke in Suid-Afrika as motorwerktuigkundige gewerk.
In 2007 is hy met Paula, tans medebestuur­der van Myngenoegen Shelter, getroud waarna hul in 2010 na Polokwane verhuis het. “In 2014 het ons ‘n groot ommekeer in ons lewens gemaak, ons harte vir die Here gegee en die drankduiwel finaal oorwin. As wedergebore kinders van die Here het ons ‘n nuwe lewe begin,” sê Paula wat byvoeg dat haar man ‘n sagte hart gehad het en altyd bereid was om ander te help.
Sy dogter, Elsie-Jane, sê haar pa het die mooiste hart gehad en uit sy pad gegaan om die mense na aan hom te help. “Hy het selfs gereeld sy familie in Gauteng besoek al het hy nie altyd genoeg geld gehad nie, maar wel ‘n plan gemaak” het sy verduidelik.
Charles van Wyk, Myngenoegen Shelter-voorsitter, sê hy sal Booyjens onthou vir die lojale persoon wat hy was en hy gaan die tye wat hul saam koffie gedrink het, mis.
Volgens Christa van Tonder, Myngenoegen Shelter-direksielid was Booyjens ‘n pa vir baie inwoners en het hulle hom ook dikwels ‘Pa’ genoem. Hy en Paula was opreg lief vir mekaar. Sy lojaliteit vir die shelter en die feit dat hy ‘n ware steunpilaar was, sal altyd onthou word.
“Thys en Paula het die afgelope vier jaar hul motto ‘Laat my lammers wei’ voluit geleef,” sê Van Tonder.
Benewens sy vrou en twee dogters laat hy vier kleinkinders agter.
Geen finale begrafnisreëlings is nog getref nie.

Storie: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za

Related Articles

Back to top button