Local NewsNews

Plaaslike boer verloor 800 ha weiding in tweede brand in drie weke

Inwoners van Leeuwkuilhoewes, lede van die GPF en die nooddienspersoneel het Maandag byna heeldag gespook om ‘n veldbrand op die plaas Morgenson, op die Matlalapad net buite die stad, onder beheer te bring. Die eerste vlamme is Sondag reeds opgemerk en is later geblus, maar die veld is waarskynlik Maandagoggend weer deur kwaaddoeners aan die …

Inwoners van Leeuwkuilhoewes, lede van die GPF en die nooddienspersoneel het Maandag byna heeldag gespook om ‘n veldbrand op die plaas Morgenson, op die Matlalapad net buite die stad, onder beheer te bring.
Die eerste vlamme is Sondag reeds opgemerk en is later geblus, maar die veld is waarskynlik Maandagoggend weer deur kwaaddoeners aan die brand gesteek.
Mike Fuchs, wat die afgelope 13 jaar op die byna 1 800 ha met 400 beeste en lusern boer, sê dit is die tweede keer in drie weke wat ‘n veldbrand op Morgenson uitbreek.
“Ek het nie baie weiding oor nie en twyfel of die veld genoeg voeding vir die beeste tot die einde van die winter sal hê. Ek het byna my bakkie en vragmotor ook in die proses verloor nadat die vlamme ons amper oorval het,” sê Fuchs.
Hy vermoed dat die oorsaak brandstigting was. “Ek is raadop met die misdaad in die omgewing. Veediefstal ruk hand uit. Een van my bulle is onlangs gesteel en ons het in Mei verdagtes betrap wat reeds 10 koeie op ‘n vragmotor gelaai en weggehardloop het toe ons daar aankom,” sê Fuchs.
Sowat 300 m-heining is ook onlangs gesteel en hy oorweeg dit om handdoek in te gooi.
Hy het sy dank teenoor elke persoon uitgespreek wat gehelp het om vure te blus.
Leeuwkuil GPF-voorsitter, Paul Venter sê lede van die gemeenskap het sonder huiwering gehelp waar hulle kan. “Waterkarre is aangery en plaaswerkers het ingespring om vuur te slaan. Ander het koeldrank en water vir die werkers aangery en dit was ongelooflik om te sien hoe die gemeenskap in nood kan saamstaan.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button