Bosveld NewsNews

Hartseer vaarwel aan Potties-steunpilaar

Een van die dorp se bekendste inwoners, Hannes Opperman (97), is verlede Vrydag ter ruste gelê na hy oorlede is na 'n kort siekbed.

MOKOPANE – Opperman, bekend vir sy lang loopbaan by die Potgietersrus Tabakkoörporasie (PTK) is op 15 Julie oorlede. Hy het in 1945 by die PTK aangesluit waar hy later hoofbestuurder geword het. Gedurende sy loopbaan het hy ondermeer deur Afrika gereis om tabakmarkte te soek en oorsee verder tabakplantery en verwerking bestudeer.

Opperman het op meer as 20 komitees en besture van verskeie organisasies gedien.

Hy het ook twee boeke die lig laat sien. Die eerste was die ontstaan en geskiedenis van die PTK vanaf 1933 tot 1978. Daarna het hy vir die familie sy lewensverhaal neergepen met die naam Truspieël.

Hy het ook ‘n klein boerdery buite die dorp bedryf met simmentalers en ‘n vrugteboord. In sy vryetyd was hy lief om houtwerk te doen. Sy vrou, Marie, is sowat 16 jaar gelede oorlede. Hy laat twee dogters, Retha en Hettie, na asook kleinkinders en agterkleinkinders. Sy skoonseun, Andy Goetsch, is tans die President van die Mokopane Sakekamer.

Opperman se begrafnisdiens is deur ds. Hennie Nel vanuit die Nederduits Hervormde Kerk gelei. Opperman was die oudste lidmaat van die kerk. Die familie bedank dr. André Rossouw, ds. Nel en Avbob Begrafnisdiens, asook familie en vriende vir al die boodskappe van meegevoel.

Indien enigeen belang sou stel in ‘n gratis boek oor die PTK kontak Retha by 082 933 1068.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button