Bosveld NewsNews

NASA-besoek ‘n belewenis uit ‘n ander wêreld

Gerda, 'n natuurwetenskap departementshoof en wiskunde onderwyseres aan Hoërskool Hans Strijdom, het die geleentheid gehad om na Alabama te reis om 'n ruimtekamp by te woon wat deur Nasa aangebied is.

MOKOPANE – Om die Amerikaanse ruimteagentskap, Nasa, te besoek was altyd ‘n droom van Gerda Swanepoel en nou is dié droom bewaarheid en Gerda beskryf dit as onvergeetlik.

Die kamp was by die Universiteit van Alabama gehou vir 160 onderwysers van 33 lande.

Slegs vyf van die onderwysers was van Suid-Afrika.

“Ons het elkeen ‘n Honeywell T-hemp gekry wat ons elke dag moes dra, dit was ‘n vol program van 07:00 tot 19:00.

“Dit was werklik ‘n ‘once in a lifetime’ ervaring veral toe ek tussen al die prototipes vuurpyle wat deur Nasa se ruimteprogram ontwikkel is kon beweeg.”

Gerda vertel opgewonde dat die sending na Mars ‘n groot indruk op haar gehad het.

Sy en haar groep het die geleentheid gehad om in ‘n nabootsruimtevaartuig te sit en te luister na van die ruimtetuigvaarders.

Sy vertel dat een van die sprekers, Homer Hickam, as kind in 1967 self ‘n vuurpyl ontwerp het as ‘n skoolprojek wat die ruimte ingestuur is.

Die onderwysers het hulself behoorlik geniet. Regs: Gerda Swanepoel verkyk haar aan die nabootsvaartuig wat eens na Mars gestuur is.

Die film October Sky is daarop gebaseer.

Ander sprekers was ‘n ruimtevaarder wat verskeie sendings in die ruimte meegemaak het, asook die bevelvoerder van die ruimteprogram van Nasa tydens die maanlandingsending. Sy vertel dat die beeldmateriaal wat aan hul vertoon is, geklassifiseerde inligting van Nasa is wat die program besonders gemaak het.

Die week is afgesluit met ‘n gradeplegtigheid waartydens elkeen ‘n sertifikaat ontvang het en ‘n dinee is daarna in die saal tussen al die ruimtetuie gehou.

Swanepoel meen dat daar ook lewenslange vriendskappe gesmee is tussen die onderwysers van veral Roemenië, die Tsjeggiese Republiek, Meksiko, Amerika, Japan, en natuurlik Suid-Afrika.

“Ek het teruggekom met nuwe insig en nuwe idees vir my klaskamer.

“Ek kan nie wag om my leeerders nuwe dinge te leer nie.”

Swanepoel spreek haar innige dank uit teenoor die maatskappy wat alles moontlik gemaak het en sê die woorde van die vader van die ruimtekamp, dr. Wernher von Braun sal haar altyd bybly: “All one can really leave one’s children is what is inside their heads. Education, in other words, and not earthly possessions, is the ultimate legacy, the only thing that cannot be taken away.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button