Bosveld NewsNews

Honde soek nuwe huise

Die klomp Indiese-Amerikaanse honde wat op 'n erf in Chroompark die bure al 'n lang tyd pla, kan nou aangeneem word.

Cobus du Toit van Chroompark soek nuwe blyplek vir sy geliefde honde. Dit volg nadat Bosveld berig het oor die lang twis tussen hom en sy bure aan weerskante in die 2-8 Junie uitgawe. Du Toit het nou besluit dit is beter om van die honde op te gee vir aanneming.

Du Toit het vroeër beweer sy honde word vergiftig terwyl sy bure weer daarop gewys het dat die diere lawaai en die stank reuk vanaf die erf ondraaglik is. Mumsy Matuma, ‘n Omgewingsgesondheidinspekteur, het aan Bosveld bevestig dat daar te veel honde op die erf is en dat dit ‘n broeiplek vir moontlike siektes, peste en plae is.

Volgens Du Toit het hy Marcelle Maritz van die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging genader en sal die DBV in samewerking met hom geskikte huise vir die Indiese-Amerikaanse honde soek. Du Toit sê ‘n donasie word gevra vir die aanneem wat aan die DBV geskenk sal word. Die publiek kan Maritz by die DBV kontak vir die besigtiging en aanneming van die honde.

Die DBV vra die gemeenskap om by die projek betrokke te raak sodat daar vir al die honde geskikte huise gevind sal word. Volgens Maritz is die Indiese-Amerikaanse honde uiters lojaal wat hulself diep aan hul families heg. “Hulle is uitstekende waghonde, hou waak oor hul mense en eiendom en is nie agressiewe aanvalhonde nie.

“Hulle voorkoms is dikwels afskrikwekkend genoeg om indringers af te skrik. Inheemse Indiese-Amerikaanse honde kom goed oor die weg met kinders en ander troeteldiere omdat hulle sosiale honde is wat interaksie geniet en hulle is ook geduldig en vriendelik. Vir aktiewe families wat die buitelug geniet, is die hond ‘n ideale metgesel.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button