Local NewsNews

Diefstalbloutjie kry (goeie) kinkel

Nadat haar handsak gesteel is, het die polisie tot Karien se redding gekom.

POLOKWANE – Die Engelse gesegde “to give credit where credit is due” lei dikwels tot goeienuusstories in die gemeenskap.

Plaaslike Seeff-konsessiehouer, Karien Jordaan, het vandeesweek ‘n diefstalbloutjie geloop, maar dié nagmerrie het ‘n dag of wat later, danksy goeie diens van onder meer die polisie in die stad, darem nie ‘n té wrang smaak in die mond gelos nie.

Jordaan se handsak, wat veilig in haar motor se kattebak toegesluit was, is Maandag uit haar motor gesteel in die Platinum Park winkelsentrum.

Kort daarna het sy, te verstane, haar misnoeë oor die situasie op sosiale media te kenne gegee.
Die diens wat in die ure daarna gevolg het, het haar uitkyk op dié benarde situasie egter verander.

Sy is aanvanklik na die sentrumbestuur waar daar vasgestel is die diefstal is gepleeg deur persone in motor met ‘n Gauteng-registrasienommer.

“Ek het gedink die ergste deel van hierdie situasie sou wees om na die polisiestasie te gaan om die misdaad aan te meld, maar ek was beslis verras.”

Sy vertel dat sy met die intrapslag by die polisiestasie vriendelik gegroet is.

“Offisier Moloto het met baie empatie vir my gevra hoe sy van hulp kan wees. Sy het geduldig na my geluister en saamgestap na my motor toe.”

Sy vertel dat die stasiebevelvoerder ook saam uitgestap het en ‘n moontlike verduideliking gegee het vir hoe die misdadigers toegang tot die motor se kattebak kon verkry het terwyl dit gesluit was.

“Offisier Moloto het hierna geduldig my verklaring afgeneem, asook al die nodige inligting.”

Jordaan is versoek om haar motor na die polisie se vingerafdrukeenheid te neem waar sy sê sy ook uitmuntende diens ontvang het.

“Die beampte, Sedrick Kolobe was deurgaans baie professioneel en hulpvaardig. Hy het selfs ‘n opvolgoproep gemaak en die saaknommer met my bevestig. Wat verder merkwaardig is, is dat in dieselfde tyd, my vennoot by die kantoor my geskakel het om te laat weet die polisie was daar oor geld wat uit my rekening onttrek is.”

Sy vertel ook van die goeie diens wat sy van die eienaars van die winkelsentrum waar die voorval gebeur het, gekry het.

“In ‘n land waar mense dikwels kla, is dit nodig om dankie te sê waar dinge wel regloop. My hele prentjie het verander. Ek wil graag die polisie bedank, en gelukwens. Die polisie het my weer die moed gegee om hier te wil woon. Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaanse burger en hierdie bly ‘n fantastiese land.”

Sy het gister weer ‘n opvolgoproep ontvang van die saakbeampte, naamlik sers. K.W. Marutha.

Jordaan bedank met groot lof ook die volgende persone wat van hulp was: Wouter Chalmers van Platinum Park, en Platinum Park Spar eienaar, Rian Piek.

Die polisie se brig. Mosima Maella het aan Review gesê die polisie se grootste prioriteit bly die beskerming en bystand van die stadsburgers, en om die gemeenskap so goed moontlik te dien.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button