Local NewsNews

Só sal NMG geliefde personeellid onthou

Roelien van Schalkwyk, 'n geliefde personeellid van die Noordelike Media Groep is Dinsdagoggend in die George Mukhari Hospitaal in Gauteng oorlede nadat sy sowat vier maande gelede met bloedkanker (leukemie) gediagnoseer is.

POLOKWANE – Sy het as elektroniese samesteller by NMG gewerk en was vir 13 jaar aan die maatskappy verbonde.

“Die afsterwe van ‘n geliefde personeellid is altyd die moeilikste onderwerp om iets oor te sê,” het Hannes Cilliers, Algemene Bestuurder van Noordelike Mediagroep, opgemerk, “Die mens wat Roelien vir ons was, maak dit ‘n bietjie makliker, ons sal altyd net mooi goed van haar onthou.”

Cilliers het haar beskryf as ‘n mens wat omgegee het vir haar werk, en vir die mense rondom haar. “Sy was altyd voorspelbaar en gebalanseerd in haar optrede, altyd bereid om te help waar sy kon, en ‘n voorbeeld vir talle in die bykans 13 jaar wat sy by ons was. Sy wou ook nie eintlik glo dat sy siek was nie, asof dit net iets was wat sou verbygaan. Ons sê dankie, en sal moet probeer besef daar is altyd ‘n Groter Plan.”

NMG Groepredakteur, Joline Nash het haar kollega as volg beskryf: “Roelien het haar voete in die koerantwêreld hier by ons in die redaksie-afdeling kom vind. Daar was soveel goeie tye saam met haar, dat die minder goeie tye nie saak maak nie. Die laat nagte se werk, waar die son ons gegroet het as ons die laaste koerantbladsy stuur.”

Nash beskryf ook die waarde wat sy bygevoeg het tot die afdeling. “Sy was jonk van gees, ‘n spanspeler wat altyd gereed was vir ‘n uitdaging, hetsy om ‘n kaskar te help bou om Haenertsburg se berge te troef of om met verfkwas in die hand, die redaksie-afdeling in ‘n ‘blou hemel’ te omskep, soos Louis Kruger altyd geskerts het. Ons groet nie net ‘n kollega nie, ons groet ‘n persoon wat diep spore in baie se harte getrap het en wat altyd ander se behoeftes bo haar eie gestel het. Haar stem is nou stil in die gange, maar die herinneringe sal ons altyd koester.”

Sy het ook ‘n laaste boodskap: ‘Roelien, een van jou grootste begeertes was om weer vir Louis, jou seun te sien en nou is jou droom bewaarheid. En so vir oulaas, skryf ek my laaste ‘taks’ soos jy altyd gevra het as die koerantbladsy na jou mening nog ‘n gaatjie gehad het vir ‘n ekstra storie.”

Brenda Pretorius, Roelien se afdelingshoof, het haar kollega se afsterwe as volg betreur:

“Roelien, dit was te vinnig – ons kon nie eers groet nie.”

“Ek het bly glo jy gaan OK deur alles kom. Ons het baie jare saamgestap nie net as kollegas nie maar ook as vriende. Jy was nooit kwaad vir niemand nie en wou altyd help waar jy kon. Jy het ons almal altyd bederf. Jou stoel is nou leeg, en jou pet wag vir jou op sy plek. Jy was dapper en jou geselsies, en glimlag sal beslis gemis word . Rus sag en in vrede.”

Marietjie Pretorius, ‘n kollega, sal haar “hartlike en lawwe laggie, uit haar maag”, onthou.

“Sy was altyd bereid om te help en ‘n bok vir ‘sports’. Sy sal altyd ‘n spesiale plek in die harte van die kantoor se personeel hê. Sy was so positief, al was sy siek, en het nooit haar hartseer met ander gedeel nie, al het sy slegte dae gehad. Sy was ‘n sagte, dog sterk mens en in haar werk kon mens altyd op haar staatmaak. Ek is dankbaar vir die tyd wat ek haar kon ken en die invloed wat sy op my lewe gehad het. Ons was soos familie op kantoor en het lank saamgewerk.”

Roelien word oorleef deur haar ma (92) en laat verder twee broers en hul families agter.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button