Mev. Polokwane-finalis wil ‘n verskil maak

Zonique Saaiman is ‘n skoonheidsterapeut en haar grootste droom is om ‘n verskil te maak.

POLOKWANE – Zonique Saaiman is ‘n skoonheidsterapeut en haar grootste droom is om ‘n verskil te maak.

“Ek het ingeskryf vir Mev. Polokwane want ek wil graag ‘n verskil maak in my gemeenskap en ek sien dit as ‘n uitdaging. Ek was voorheen ook betrokke by gemeenskapswerk en dis lekker om te weet jy maak ‘n verskil in iemand se lewe.”

Hierdie ma van twee, en huweliksmaat van Gerhard, vertel dat sy van 2010 tot 2012 deel van die Mej. Limpopo organisasie was waar sy jong dames gementor het.

“Dit was gedurende hierdie tyd dat ek besef het hoe baie mense sukkel en hoe dit hulle affekteer. Ek en my man het in 2013 ‘n organisasie begin met die naam Think with your Heart. Ons het met die hulp van die gemeenskap R27 000 ingesamel.”

Sy vertel dat sy besluit het dat 2017 die jaar gaan wees waar sy mense bemagtig en dis die rede waarom sy ingeskryf het vir Mev. Polokwane.

“Ek sien uit na wat op my wag en die ondervinding wat Mev. Polokwane my bied. Ek het alreeds baie geleer. Ek het geleer dat die mense in wie se lewens jy ‘n verskil maak, einlik net so groot verskil in jou lewe maak.”

Die organisasie wat sy as finalis ondersteun is die Tough Living with Cancer (TLC)  by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal. Sy vertel dat dit vir haar moeilik is om te sien hoe kinders swaarkry en dat sy alles moontlik wil doen om vir hulle dit makliker te maak.

Gerhard het haar aangemoedig om in te skryf en sy vertel dat hy in haar glo en haar sonder enige vrae altyd ondersteun. “Ek het nooit gedink dat ek gekies sal word as een van die top 10 finaliste nie, maar ek is baie opgewonde,” vertel sy. “Dit voel glad nie vir my soos ‘n kompetisie nie. Ek is net myself en ek doen net my ding. Daar is soveel mense daar buite wat nog omgee en ‘n verskil wil maak. Ek was eers bang dat mense dink ek doen dit net om aandag te trek, maar  ek het besef jy hoef nie mooi of maer te wees om ‘n verskil te maak nie. My raad aan ander vroue wat graag wil inskryf vir Mev. Polokwane is, om daarvoor te gaan en dit net te doen en geniet.”

In haar vrye tyd spandeer sy tyd saam met haar gesin. Sy geniet dit om te bak saam met haar seuntjie en grimering is ook een van haar passies.

Zonique se eerste projek is Knitting for Mandela Day, waar mense komberse kan hekel of brei.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

Exit mobile version