Local NewsNews

VGP verwelkom nuwe mediaskakel

Rita Groenewald is reeds vir baie jare deel van die familie by Eeufeeshuis en die Vereniging van Gestremde Persone (VGP) waar sy onlangs as mediaskakelbeampte aangestel is.

POLOKWANE – Sy vertel dat haar ma vir jare daar gewerk het en dat sy self in 1999 by haar ma kom bly het en ook ‘n pos by die VGP aanvaar het.

“Ek het self ‘n familielid wat gestremd is, so ek is al sedert kindsbeen met gestremde mense in kontak.

“Aan die begin was dit wel moeilik om met hulle te werk, maar ek het mettertyd daarby aangepas,” vertel sy.

Rita sê sy was vir baie lank die VGP provinsiale direkteur se persoonlike assistent en dat sy steeds dié posisie gaan beklee.

“Nadat die vorige mediaskakelbeampte bedank het, is daar besluit om die pos intern te vul dus is ek en Margeret Malatji in die pos aangestel.

“Voorheen was ek die persoonlike assistent en het ek ook die saal se besprekings behartig. Nou doen ek al die mediakorrespondensie asook die maak van brosjures en bemarking.”

Sy sê geduld, goeie organisasievermoë asook goeie menseverhoudings is van uiterse belang in haar pos.

“My grootste uitdaging in my nuwe pos is om goeie bemarking te doen wat afhanklik is van my vermoë om geld te genereer. Daarby moet ek steeds ‘n goeie assistent wees wat verantwoordelikhede kan hanteer.”

Om met die media te werk is een van die makliker aspekte van die werk, meen sy, en “omdat ek nog nooit bemarking gedoen het nie is dit een van die moeiliker aspekte. Ek sien wel baie uit na die nuwe uitdagings”.

Rita is betrokke by al die reëlings vir Loslitdag, wat op 1 September gehou word, en sê sy is dankbaar vir die hulp wat haar kollegas haar bied waar nodig.

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button