Is dagga ‘n oplossing?

'n Anonieme sakeman van Mokopane praat met Bosveld.

MOKOPANE – ‘n Anonieme sakeman van Mokopane wat drie jaar terug gediagnoseer is met long-, lewer- en kolonkanker het met Bosveld gesels oor die wetgewing om dagga vir medisinale gebruik te wettig en die gebruik van cannabisolie.

Volgens die sakeman is daar die afgelope paar maande ‘n paar stappe in die regte rigting gedoen om dagga te wettig en is die Nasionale Vergadering in die proses om die gebruik van dagga vir pynbehandeling tans te oorweeg.

Die Medisynebeheerraad (MBR) het ‘n komitee gestig wat ook met die landboudepartement beraadslag oor geskikte gebiede en veiligheidsmaatreëls en sal die kweek van beperkte hoeveelhede dagga vir medisinale gebruik reguleer, asook die verwerking daarvan tot ‘n aanvaarbare farmaseutiese doseringsvorm wat dokters kan voorskryf aan pasiënte wat byvoorbeeld ernstige chroniese pyn ervaar.

Die sakeman beweer noudat die Parlement ‘n sperdatum het om binne die volgende 24 maande te oorweeg om die persoonlike gebruik van dagga te wettig, sal Suid-Afrikaners moontlik in die nabye toekoms volledige dekriminalisering sien.

Benewens die dekriminalisering van dagga, het die hof ook beslis dat die Parlement dele van die Wet op Dwelmhandel, asook die Wet op Medisynebeheer, moet verander om die uitspraak te weerspieël.

Die handel, kweek en gebruik van die daggaplant sal ‘n misdaad bly.

Die sakeman sê: “Dit is vir my die beste nuus ooit dat die wetgewing nou in die regte rigting beweeg dat die gebruik van dagga gedekriminaliseer word. Ek is ‘n lewende getuie van die medisinale voordele van cannabisolie. Ek was reeds in stadium vier van kanker toe ek besluit het om cannabisolie te gebruik. Teen dag twee het ek al beter begin voel.”

Die sakeman sê hy het die olie gebruik terwyl hy chemoterapie ontvang het. Volgens hom het die olie die nagevolge van chemoterapie soos naarheid, lighoofdigheid en moegheid teengewerk, en hy glo die olie vertraag die groei van kankergewasse.

“Weens my siekte het ek geen eetlus gehad nie en geweldig gewig verloor. Nadat ek die olie begin gebruik het, het my eetlus teruggekom en het ek weer gewig opgetel.”

Die man beweer hy het die afgelope twee jaar wat hy die olie gebruik, nog geen ander siektes opgedoen, soos verkoue, griep of maaggriep nie.

Volgens hom help die olie vir bloeddruk, diabetes, artritis, nierprobleme, urienweg probleme en geestestoestande soos depressie.

“Daar is twee stamme dagga: Sativa en Indica. Sativa help vir ADHD, depressie, angs, OCD, PTSD, outisme, epilepsie, Alzheimer’s en breinskade. Indica help vir kanker, fibromialgie, naarheid, artritis, diabetes, MIV/vigs en chroniese pyn.”

Volgens die sakeman word die olie van die sade afgetrek en nie die blare soos wat baie glo nie en jy gebruik bitter min per toediening. Hy gebruik een druppel twee keer per dag en al nadeel is dat dit vir jou ‘n droë mond gee.

“Die wat beweer dat dit jou op ‘n trip sit gebruik dit nie reg nie. Die mense moet ook versigtig wees waar hulle die olie aanskaf. Daar is mense wat die olie afkook met alkohol, benseen en asetoon wat ‘n magdom nagevolge vir die verbruiker kan inhou.

“Ek gebruik net suiwer cannabisolie en glo as dit nie vir die olie was nie, sou ek baie sieker gewees het en beslis nie die lewensgehalte gehad het wat ek nou het nie. Ek kan dit met ‘n geruste hart aanbeveel.”

Volgens die sakeman is cannabis olie ‘n natuurlike produk deur God aan die mense gegee om te gebruik.

Hy verwys na Exodus 30:23 en sê: “God het Moses gerig om heilige olie te maak wat bestaan uit mirre, soetkaneel, Kaneh-bosem (cannabis), cassia en olyfolie. Dit is ‘n heilige salfolie.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version