Regte is Jakkie se passie

Jakkie Wessels is 'n dinamiese vrou wat weet wat sy in die lewe wil hê.

POLOKWANE – Sy is die President van die Limpopo Streekhof en vertel dat sy destyds toe sy begin studeer het moes kies tussen regte en joernalistiek.

“Ek wou altyd in die regte studeer maar het in my gr. 12-jaar eerder op joernalistiek besluit. Ek het egter ‘n justisiebeurs ontvang en B.Juris by die Universiteit van Pretoria studeer.”

Sy vertel dat sy in 1984 as aanklaer begin werk het en later as landdros in die distrikhof in Pretoria.

“Daarna het ek vir ‘n tyd lank niks met die regte te doen gehad nie, maar is na drie jaar terug universiteit toe waar ek B.Prok en L.L.B. studeer het. Ek het ook my B.A. honneurs voltooi.”

Na haar studies het sy by Unisa se regsfakulteit begin werk en haar meestersgraad voltooi.

“Ek het by opleiding betrokke geraak en dit baie geniet. In 1998 het ek by Justisie Kollege begin werk tot middel 2002 waarna ek in die Pretoria streekhof begin waarneem het. Kort daarna is ek as landdros aangestel.”

Sy vertel dat sy tans in beheer is van die streekhowe in Limpopo, maar dat sy steeds hofsittings doen.

Sy is ook die raadslid van die Suid-Afrikaanse Geregtelike Onderwysinstituut (SAJEI) en doen steeds opleiding. Sy is ook raadslid van die Reëls Raas en voorsitter van die Magistraatkomitee.

“Ek geniet my werk want ek kan alles doen waarvoor ek ‘n passie het wat die hofprosedure en opleiding insluit. By die Reëls Raad is ek ook by wetgewing betrokke. Ek kan nie net op die bank in die hof sit nie, ek moet ander dinge ook doen,” skerts sy.

Jakkie was betrokke by die opstel van die wetgewer en is uitgenooi na die Amerikaanse Ambassade met ‘n Vroue en die Wet-program. In 2013 is sy na die Verenigde Nasies genooi as geslagkenner en in 2015 het sy weer na die Verenigde Nasies gereis. Daarby was sy ook by die internasionale riglyne vir geslaggeweld betrokke.

“Ek het nie baie uitdagings in my werk nie, ek maak ‘n plan as iets opduik. Dit is wel sleg as ‘n hof nie kan aangaan nie, byvoorbeeld as die hofpersoneel siek is of as die krag af is. Een van die minder lekker dinge is om vir mense te sê dat hul saak uitgestel moet word.”

Die karaktereienskappe wat nodig is in haar beroep, verduidelik sy, is toewyding en passie. Navorsing en op datum wees met die nuutste wetgewing speel ook ‘n belangrike rol.

“Ek het streeklanddrosse wat baie toegewyd en lojaal is wat die lewe makliker maak. Daar heers goeie samehorigheid onder hulle en almal is nederig; hulle deel ‘n passie om vir die gemeenskappe terug te gee. Ek is baie gelukkig en dankbaar om die beste provinsie in die land te hê, ten spyte van alles is Limpopo ‘n wonderlike plek.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version