Geliefde HTS-leerder verloor stryd teen kanker

Ferdie Botha (15) is op 2 Februarie met ALL Leukemia gediagnoseer

POLOKWANE – Ferdie Botha, die borrelende leerder van Tom Naudé wat in Februarie met kanker gediagnoseer is, het Maandag sy stryd teen dié siekte verloor.

Ferdie (15) is op 2 Februarie met ALL Leukemia gediagnoseer en sy ma, Adele, vertel day hy nie regtig siek was nie, maar wel simptome van verkoue getoon het.

“Die dokters het hom getoets vir malaria, maar die uitslae was negatief. Hy het erge hoofpyne begin kry en skielik ‘n geweldige pyn in sy sy gehad. Ek het aanvanklik vermoed dat dit sy blindederm kon wees en het hom na die dokter geneem. Die dokter het ons na die hospitaal verwys en hier is bevind dat Ferdie se milt vergroot is. ‘n Vergrote milt was een van die eerste tekens dat hy leukemie het.”

Adele vertel dat Ferdie daarop aangedring het om skool toe te gaan ondanks sy kankerdiagnose.

“Hy wou die graad slaag en wou selfs sy chemoterapiesessies uitstel in die hoop dat hy eksamen sou kon skryf. Ferdie het ‘n sterk persoonlikheid gehad en as hy sy hart op iets gesit het, het hy dit gedoen. Hy het vreeslik baie vriende gehad en was geliefd deur almal oor sy borrelende en nederige persoonlikheid. Hy het altyd gelag en nooit gekla nie, selfs nie toe hy baie siek was nie. Hy het nog ‘n halfuur voor sy dood vir die suster met sy duime gewys dat alles reg is,” onthou sy.

Ferdie se voogonderwyser, Durethe Oosthuizen, vertel dat Ferdie ‘n uiterse positiewe kind was.

“Hy het ‘n paar dae na sy chemoterapiebehandeling skool toe gekom en glad nie gewys dat hy siek is nie. Hy was ‘n terggees en het altyd grappe gemaak daarby was hy lief vir sport en baie intelligent. Hy het altyd geglo dat daar mense is wat slegter af as hy is.”

Adele vertel dat hy na sy laaste chemoterapiesessie ‘n virus opgetel het wat gelei het dat hy sy stryd teen kanker verloor.

Ferdie se begrafnis het vandag (Donderdag) om 11:00 vanuit Tom Naudé se skoolsaal plaasgevind.

Ferdie laat sy ouers, Flip en Adele en twee broers, Flippie en AJ na.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version