NewsSchools

PHS hou religie aan’t kook

Jessica Hattingh is die religieonderwyser van Hoërskool Pietersburg (PHS) en vertel dat dié vak vir haar iets is wat sy graag uitleef en in elk van die leerders ook wil laat voortleef.

POLOKWANE – Sy is reeds sedert 2006 betrokke by die vak in skole en het in 2006 by Hoërskool Bergvlam in Nelspruit as jeugwerker begin. Daar, vertel sy, het sy besef dat sy ‘n ongelooflike passie vir jongmense het. “Ek het die voorreg gehad om Januarie deel van die PHS-span te word. In die maande wat ek hier betrokke is, kon ek duidelik sien dat PHS ‘n skool met onwrikbare waardes is en het ek sommer dadelik lief geword vir die kinders en personeel,” vertel Jessica.

Met Godsdiens wat uit die skole gevat word, vertel Jessica dat sy dit maklik vind om die vak in die skool aan die gang te kan hou. “PHS is ‘n skool met ‘n Christelike-gefundeerde karakter. Daar vind deur die week verskeie geestelike aksies plaas en leerders kan vrywillig daaraan deelneem.

“Met die hofsaak wat tans aan die gang is om Godsdiens uit skole te haal, besef ons opnuut watter groot voorreg dit is om ons geloof openlik te kan uitleef,” vertel sy.

Sy sê dat daar baie gevalle is waaraan sy kan dink waar die vak ‘n groot verskil gemaak het.

“Ek aanskou elke dag veranderinge en wonderwerke, dit is wat my werk so lonend maak. Wanneer iemand ‘n ontmoeting met die Here het en daardeur ‘n openbaring kry van God se Vaderhart, is verandering onvermydelik. Ons kry die geleentheid om saad te saai in hierdie jongmense se lewens en soms het ons die vooreg om dit reeds nou al te sien ontkiem en blom, en ander kere kom die saad later eers op. Hoe dit ookal sy, die geestelike insette wat ons in die kinders se lewens belê, is nie tevergeefs nie. Alhoewel ‘religie’ die naam is van die afdeling waaronder die geestelike aktiwiteite van die skool val, ag ons by PHS dit nie as ‘n afdeling in ons lewens nie maar eerder ‘n leefwyse, ‘n verhouding met die Een wie ons in staat stel om ‘n verskil te maak. Ons streef daarna om hoop te bring, ondersteuning te bied, te motiveer en te inspireer,” vertel sy trots.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button