Local NewsNews

Plaaslike paartjie kies ‘n moderne manier van trou

Marnus en Marie-Louise gee ja-woord in opwindende nuwe TV-reeks

POLOKWANE – Die dag toe Marnus van Rooyen niksvermoedend na ‘n familievriend se stoor met ‘n veteraanmotor in gery het, het sy lewe verander. Dié dag, het die niksvermoedende Marnus se troudag geword.

In die skuur het sy meisie van nege jaar, Marie-Louise, gewag, aangetrek en opgemaak soos die bruid wat sy al sedert sy kan onthou van droom.

“Ek en Marnus het by Muurprop, ‘n jeugbyeenkoms by Taberna Dei, ontmoet,” vertel sy.

Die paartjie is op Saterdag, 20 Mei by Grin Court tydens die opname van ‘n nuwe TV program op Via, Kom ons trou, nou, getroud.

“Ons het nooit regtig die finansies gehad om te trou nie en toe ek van die program te hore kom het ek die geleentheid aangegryp.”

Marie-Louise vertel dat sy baie gespanne was oor die geleentheid en dat sy die hele troue, vir 50 gaste, binne slegs drie dae moes reël.

“My asem was heeltemal weggeslaan toe sy in haar trourok daar in die stoor tussen die ou motors gestaan het. Ek kon aan niks anders as haar dink nie en dit was beslis ‘n oorweldigende verrassing,” vertel Marnus met ‘n breë glimlag.

“Ek sou haar op Bloubergstrand tydens ‘n mooi sonsondergang met ‘n glasie vonkelwyn vra om te trou, maar wat sy gedoen het was briljant. Dit was presies soos ek dit wou hê, eintlik nog beter as wat ek kon dink.”

Marie-Louise moes selfs Marnus se ouers vra om met hom te trou en sy sê dié deel was maar kort op TV uitgesaai. “Hulle was self baie emosioneel en kon nie dadelik antwoord nie. Ons het ‘n baie goeie verhouding,” onthou sy.

Sy vertel hoe alles op die dag vir haar ‘n groot verrassing was.

“Dit was die beste besluit wat ek ooit geneem het en ek sal dit vir almal aanbeveel,” vertel Marie-Louise. Marnus voeg by dat hy dit alles weer presies dieselfde sou doen. “Almal het soveel moeite gedoen en alles was net perfek. Ek sal dit definitief aanbeveel as jy seker is dat jy die res van jou lewe saam met jou maat wil wees,” sê hy terwyl hy met ‘n glinster in sy oë, vir Marie-Louise glimlag.

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button