Werkpermitte verval binnekort

Die verval van Zimbabwiese werkpermitte hou in 2018 groot probleme vir Limpopo, sowel as die res van die land in.

LIMPOPO – Die stelsel wat onder ZSP (Zimbabwian special permit) stelsel toegestaan is, verval einde Desember 2017. Volgens Drickus Botha, Streeksbestuurder TLU Noord, is georganiseerde landbou in Limpopo bekommerd oor die impak wat die verval op die arbeidsituasie in die provinsie gaan hê.

Botha sê: “Verskeie ander kategorie- werkpermitte sal teen verstryking daarvan ook nie weer hernu word nie, dit sal die situasie vererger.”

Volgens Botha het die Departement van Binnelandse Sake nog geen aanduiding gegee dat daar `n alternatiewe permitstelsel gaan kom wat die bestaande stelsel gaan vervang nie.

“Vorige aanduidings was dat die permithouers by verstryking van hul permitte na Zimbabwe sal moet terugkeer. Die stap is daarop gemik om meer werkgeleenthede vir SA burgers beskikbaar te stel. Dit is herhaaldelik deur die Departement van Arbeid waargeneem dat Suid-Afrikaners nie bereid is om sekere werk op plase te doen nie.”

Botha beweer daar is sowat 500 000 Zimbabwiërs wat wettig en onwettig in Suid Afrika woon en werk wat teen vroeg 2018 gedeporteer moet word na `n land wat nie die ekonomiese vermoë het om hulle te akkommodeer nie. Dieselfde ekonomiese omstandighede wat hulle na SA gedryf het, bestaan steeds in Zimbabwe.

Hy sê met ‘n grens wat geen immigrasiebeheer moontlik maak nie, sal hierdie mense eenvoudig as onwettiges die land weer binnekom.

“Hulle gaan in hulle massas op plase in Limpopo opdaag op soek na werk, hierdie keer sonder dokumentasie van enige aard.”

Indien die boer hierdie mense in diens neem, is die boer onmiddellik skuldig aan die oortreding van immigrasie- en arbeidswetgewing.”Die sosio-maatskaplike en sosio-ekonomiese probleme wat vroeg in 2018 op ons noordelike grens gaan ontstaan, sal veiligheidsprobleme vir grondeienaars langs daardie deel van die grens laat toeneem.

“Hierdie situasie gaan geweldige druk plaas op SAPD-bronne soos mannekrag en voertuie. Misdaadbekamping in die hele Limpopo gaan ‘n groter probleem word as wat tans die geval is,” sê Botha.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version