Mokopane ma en dogter oorval, aangerand deur ses gewapende verdagtes

Die vrou en dogter het Woensdagoggend met Bosveld gesels oor dié nagmerrie-ondervinding.

MOKOPANE – ‘n Bekende sakeman van Mokopane se vrou en dogter is Dinsdagaand net voor 20:00 in hulle huis oorval, aangerand en beroof.

Die vrou en dogter het Woensdagoggend met Bosveld gesels oor dié nagmerrie-ondervinding.

“Ek het vanaf die familie-besigheid in die dorp huis toe gery. Ek het in die huis ingegaan en my handsak op die kombuistafel neergesit. My dogter wou die voordeur sluit toe ses gewapende mans voor haar staan. Vyf van hulle het klapmusse gedra. Ek het vir my dogter geskree om kamer toe te hardloop met die hoop dat ons, ons daar kan toesluit. Die rowers was te vinnig en het ons gegryp en vasgebind met kabelbande. Hulle het my geskop en vir geld gevra.”

Sy het aan die mans gesê dat daar nie kontant in die huis is nie. Die dogter vertel dat sy aanhoudend hardop gebid het en gepleit het dat die rowers hulle nie doodmaak of verkrag nie. “Ek het selfs gesê hulle kan vat net wat hulle wil, ons voertuie ook.”

Die dogter het aan die mans gesê dat sy hulle sal help soek na geld in die huis. Die rowers het toe haar hande losgesny. Volgens die dogter het die rowers van haar vergeet, want kort daarna het hulle in een van die voertuie gevlug, met die kluis, haar ma se juwele was daarin.

Die dogter het haar broer gebel wat toe nog by die familie se besigheid was. Hy het na Suricat gejaag vir hulp. Die reaksieoffisiere van Suricat is saam met hom na die huis, die polisie is ook intussen in kennis gestel.

Volgens die vrou vermoed sy dat die rowers hulle al ‘n geruime tyd dophou.

“Ons bure se honde is ook sowat twee weke gelede vergiftig,” vertel sy.

“Ek dink hulle het my van die besigheid af agtervolg en gedink ek het kontant by my.”

Die polisie het die gesteelde voertuig later in uitbreiding 19 gevind, maar die kluis en verdagtes is nog soek.

“Ons is net dankbaar dat ons lewens gespaar is. Dit kon soveel erger gewees het.” Die dogter sê sy glo die Here se hand was oor hulle.

“Dit waarmee die mans weggekom het, is aardse goed. Ons lewens is belangriker,” voeg sy by.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version