Local NewsNews

Grondpaaie se swak toestand is ‘lewensgevaarlik’

Die inwoners wat op die omliggende hoewes rondom die dorp woon het hulle misnoë teenoor Bosveld uitgespreek or die toestand van paaie en waarskuwingstekens.

MOKOPANE – Bosveld het saam met Marcelle Maritz, Limpopo leier van die VF+ en Gido De Medonca van Arend buurtwag die probleemareas besoek.

Gido wys by die drierigtingstop by Obaro in Maribashoek waar wette nie gehoorsaam word nie. Baie voertuie en trokke verontagsaam die stopteken en ry net oor. Volgens Gido het Maribashoek se gemeenskap voorstelle aan Sanral voorgelê oor die probleem, maar dit is afgekeur.

Gido meen nog ‘n groot kommer is die toestand van waarskuwingstekens. Meeste lê onderstebo en is nie behoorlik vas nie. Die waarskuwingsborde is so verbleik dit is nie meer duidelik in die nag nie en het dan nie ‘n nut nie.

Volgens Gido is dit lewensgevaarlik om in die nag op die paaie jou lewe te waag. “Hier was al soveel ongelukke op die paaie en mense wat voertuie se bande verloor.

Die kante van die paaie is weggespoel, word oorgroei of lê vol vullis en daar is geen plek vir voetgangers of fietsryers nie.

Die afvoerwaterpype se versterkings steek bo die grond uit wat ‘n voertuig se band lelik kan beskadig en selfsveroorsaak dat iemand beheer oor sy voertuig kan verloor.

“Die Planknekpad is vol slaggate. Maribashoek en Lisbon se pad moet geskraap, herstel en weer met gruis gegooi word. Die stormwaterpype se versterkingsdrade steek al uit en sny en beskadig die motors se bande. Die gemeenskap van die plotte sit met hulle hande in hulle hare en weet nie meer watter kant toe nie.”

Marcelle Maritz sê die toestand van die paaie en waarskuwings is ‘n groot kommer.

“Die mense se veiligheid en lewens is ingedrang as jy hier ry. Wat gaan gebeur as iemand in die nag nood het en jy kan dit nie waag om op die pad te ry nie. Die munisipaliteit sal moet verantwoordelikheid neem en drasties met voorstelle en ‘n dringende plan vorendag moet kom.”

Susan Ollewagen het vir Bosveld ‘n e-pos gestuur.

“Die Maribashoekpad is al baie lank vol gate op die geteerde gedeelte en die grondpad word bitter min geskraap. Skerp klippe wat uitkom veroorsaak baie skade aan voertuie se bande.”

Nog ‘n inwoner op een van die hoewes, Corrie Venter, sê: “Ons pad op die Lisbon hoewes langs die Nyl is maande laas geskraap. Daar is nie meer eers twee rybane nie. Op party plekke moet die voertuie vir mekaar wag om verby te kom soos die paaie in die reënseisoen al verspoel het. Ons voertuie verniel verskriklik.”

Tim Pullen wat op die Percy Fyfe pad oorkant die Audrey-ryskool woon, sê hy het die munisipaliteit gekontak oor die toestand van die pad. “Die antwoord wat ek ontvang het is dat hulle dit sal ondersoek, maar niks word ooit gedoen nie. Nooit het iemand gekom om ondersoek in te stel of om instandhouding te doen nie.”

Die Mogalakwena Munisipaliteit het teen druktyd nog nie terugvoering aan Bosveld gegee oor die klagtes nie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button