Plakkate teen kragbokse hou groot gevaar in

Die munisipaliteit is tans besig om die talle onwettige advertensies wat op kragbokse in die stad geplak word, hok te slaan.

POLOKWANE – Op sommige kragbokse in die stad is soveel advertensies geplak dat tegnikuste dit moeilik vind om hul werk uit te voer sodra hulle uitgeroep word.

‘n Tegnikus, Bongile Mabunda het aan Review vertel hoe sy werk bemoeilik word. “Dit is al op die punt waar ons letterlik papierskraaptoerusting saamdra om die papier eers te verwyder voordat ons kan werk.”

Hy vertel dat daar in van die bokse, soms papier gekry word wat langs die kante ingedruk is.

 

“Dit kan ‘n moontlike gevaar inhou vir brand omdat die kabels binne die boks lewendig is en sodra daar ‘n kortsluiting is, sal die papier aan die brand raak. Wie gaan dan daarvoor betaal? Dis dinge waaraan die mense wat onwettig adverteer nie dink nie,” vertel hy.

Om die probleem hok te slaan het die munisipaliteit nou ‘n duidelike boodskap op die bokse geverf om mense te waarsku om nie onwettige advertensies daarop aan te bring nie.

“Ons kan nie polisie speel en elke boks in die stad oppas nie. Daarom is die kennisgewing aangebring in die hoop dat dit mense was laat afsien van iets plak,” vertel hy.

Onwettige advertensies kan by die Polokwane Munisipaliteit aangemeld word by (015) 290 2000.

Die munisipaliteit doen ‘n beroep op mense in die stad om gebruik te maak van wettige advertensie wanneer hulle wil adverteer.

Munisipale Woordvoerder Matshidiso Mothapo vra dat inwoners die munisipale kantore besoek wanneer hulle iets adverteer omdat daar ‘n spesiale plakker opgesit moet word nadat daar betaal is vir die advertensie.

Enige item wat as ‘n advertensie geag word en nie die nodige plakker op het nie, sal deur die munisipaliteit verwyder word en diegene betrokke sal beboet word.

Vir Telkom bokse wat gevandaliseer word of oop gevind word, skakel Telkom by 081 389 7877 of die hoofkantoor, by (012) 311 5247.

 

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version