Local NewsNews

Skuiling vir stad se haweloses

Na byna drie jaar van onderhandelinge tussen rolspelers wat die polisie, Polokwane GPF en Polokwane munisipaliteit insluit, sal haweloses en werksoekers wat saans op die stad se sypaadjies slaap en bedags werk soek, moontlik eersdaags ‘n heenkome hê. “Finale verslae is reeds deur die rolspelers ingedien en goedgekeur en ‘n perseel waar dié mense gehuisves …

Na byna drie jaar van onderhandelinge tussen rolspelers wat die polisie, Polokwane GPF en Polokwane munisipaliteit insluit, sal haweloses en werksoekers wat saans op die stad se sypaadjies slaap en bedags werk soek, moontlik eersdaags ‘n heenkome hê.
“Finale verslae is reeds deur die rolspelers ingedien en goedgekeur en ‘n perseel waar dié mense gehuisves sal word en selfs opleiding kan ontvang, geïdentifiseer” sê Polokwane GPF-voorsitter, Dawid Botes.
Volgens Botes is die perseel in Blaauwbergstraat agter die Game-sentrum in die middestad geleë en dit sal as die Blaauwberg Shelter bekendstaan.
Die onus is nou op die munisipaliteit om dié perseel en gebou op te ruim en skoon te maak sodat die proses om straatslapers te hervestig, bespoedig kan word.
“Dit is baie goeie nuus vir die stad. Die shelter sal nie net behui­sing bied nie, maar ook opleiding in ‘n verskeidenheid rigtings en ambagte bied waarvoor sertifikate uigereik sal word. Dit sal ‘n positiewe uitwerking op die stad hê omdat mense sonder heenkome van die sypaadjies verwyder word en op ‘n sentrale en gekontroleerde perseel gehuisves sal word. Westen­burg polisiestasie het ingestem om ‘n satellietstasie op die perseel te beman waar inwoners se misdaadrekords opgesoek kan word. Werkgewers kan dus hierdie mense met vrymoedigheid aanstel,” sê Botes en voeg by dat munisipale verordeninge streng toegepas sal word om die inisiatief se sukses te verseker.
Hy moedig die stad se inwo­ners aan om van die geleentheid gebruik te maak om werkers vanuit die shelter aan te stel en nie meer elders in die stad op te laai nie. “Skenkings soos komberse en kos moet ook nie meer aan mense op straat gegee word nie, maar eerder aan die shelter in ‘n poging om mense aan te moedig om van dié geriewe gebruik te maak.”
Hawelose mense wat op sypaadjies slaap is ‘n voortdurende kopseer vir besighede in die omgewing van Schoeman- en Excelsiorstraat waar daar in een aand 107 mense wat met kartondose en ander materiaal tydelike skuilings bou, getel is.
Besigheideienaars is van mening dat die munisipaliteit hul verantwoordelikheid in dié verband lankal reeds moes nagekom het om te verhoed dat die probleem handuit ruk.
“Soggens kan ek nie my winkel oopsluit sonder om eers al die gemors voor die deur te verwyder nie. Dwelms is ‘n algemene verskynsel. Ek moet telkens spuitnaalde verwyder en selfs bloed van die sypaadjie afwas. Hier is nie toiletgeriewe nie en die reuk raak ondraaglik,” sê ‘n anonieme sakeman.
Nog ‘n eienaar meen hy verloor besigheid weens die probleem.
“Sodra jy hulle konfronteer, word die winkel geteiken en die vensters uitgeslaan. Die inisiatief om hulle te hervestig sal wyd verwelkom word.”
Munisipale woordvoerder, Matshidiso Mothapo het bevestig dat die probleem aangespreek word en volgens hom is die verslae vir verdere bespreking en aanbevelings ingedien, maar Botes sê dit is reeds afgehandel en deur burgemeester Thembi Nkadimeng goedgekeur.
Dit is nie duidelik wanneer die perseel amptelik in gebruik geneem sal word nie en Botes sê dit hang van die munisipaliteit af wanneer die gebou bruikbaar sal wees.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button