Local NewsNews

Oud-Pietie se stryd met malaria

Die 19-jarige, Esselen Deetlefs wat verlede jaar aan Hoërskool Pietersburg (PHS) gematrikuleer het, is een van vele slagoffers wat onlangs met malaria in Limpopo gediagnoseer is. Polokwane Observer het onlangs oor verskeie inwoners in en rondom die stad berig wat die afgelope twee maande dié siekte moes trotseer, waarvan sommige selfs by die dood omgedraai …

Die 19-jarige, Esselen Deetlefs wat verlede jaar aan Hoërskool Pietersburg (PHS) gematrikuleer het, is een van vele slagoffers wat onlangs met malaria in Limpopo gediagnoseer is.
Polokwane Observer het onlangs oor verskeie inwoners in en rondom die stad berig wat die afgelope twee maande dié siekte moes trotseer, waarvan sommige selfs by die dood omgedraai het.
“Esselen was baie siek en het vier dae in die hospitaal deurgebring. Hy het verlede Maandag vanuit Mosambiek teruggekeer waar hy deeltyds vir ‘n boer werk. Hy het Dinsdag van erge hoofpyn en naarheid gekla en erge koors gehad. Sy hele lyf het van kouekoors hoendervel uitgeslaan en minute daarna begin hy gloei soos sy liggaamstemperatuur styg,” sê sy ma, Eloise.
Ons het direk na die patoloog gegaan waar bloed getrek en getoets is. “Toe ons later die dag die positiewe uitslae kry, is ons dadelik hospitaal toe waar hy onder ‘n internis se toesig opgeneem is.”
Esselen het dadelik die regte behandeling en medikasie ontvang en Eloise praat net met lof van die dokter se flink optrede. “Mense wat soortgelyke simptome ervaar moenie huiwer om vir malaria getoets te word nie. Hoe vinniger dit gediagnoseer kan word, hoe beter is die kanse op herstel,” meen Eloise.
Esselen is voor die naweek ontslaan nadat die parasiettelling in sy bloed nul getoon het. Hy kla egter steeds van hoofpyn en naarheid, volgens sy ma.
Die Deetlefs-gesin het aan die begin van Mei ‘n familievriend weens malaria aan die dood afgestaan. Die 20-jarige Jo Hoogenboezem van Middelburg het saam met sy neef, Jac, vir sy ouers op Tolwe gaan kuier. Beide het malaria opgedoen, maar Jo is enkele dae na die diagnose oorlede. Jac se ma, Hanti, sê die twee neefs het die naweek in dieselfde kamer geslaap en enkele dae na hul kuier simptome begin toon.
Intussen is ook verneem dat Deon Holtzhausen van Mogwadi wat op 2 Mei in die hospitaal met malaria opgeneem is, Sondag oorlede is.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button